|
DIE WESRAND GEDURENDE DIE ANGLO-BOEREOORLOG | |
Voorlegging aan die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, Wes-Gauteng,17 April 2004
Deur Janetta du Plooy, Ph D (1999) Potchefstroomse Universiteit vir CHO
Kontak besonderhede: Epos jduplooy@absamail.co.za Sel 082-334-7913 | | Inleiding
Die sosiaal-kulturele ontwikkeling van die Wesrand is in 'n groot mate beïnvloed deur die stigting van Krugersdorp. Faktore soos die ontdekking van goud en die Transvaalse Oorlog (Eerste Vryheidsoorlog) het nie net tot die stigting van Krugersdorp bygedra nie, maar dit het ook 'n belangrike invloed gehad op die sosiale en ekonomiese ontwikkeling van die dorp. Die Paardekraalmonument was vir dekades die middelpunt waarom kultuuraktiwiteite aan die Wesrand gewentel het en waaraan die voortbestaan van die blanke Afrikaner gekoppel was. Krugersdorp was met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog die enigste dorp aan die Wesrand.
Agtergrond
Krugersdorp het sy ontstaan te danke aan die ontdekking van goud aan die Wesrand en die proklamering van openbare delwerye op die plase Paardekraal, Vogelstruisfontein, Luipaardsvlei, Witpoortjie, Klipplaat, Heuningklip en Wilgespruit in 1886/1887. Hierdie delwerye het onder die jurisdiksie van Mynkommissaris Robert Gerrit Ockerse, geval.1 Vir die administrasie van die goudvelde was hy bygestaan deur twee klerke. Volgens Wet 8 van 1889 het hy mag besit om alle sake rakende die delwerye te beheer en te bestuur en moes hy hom beywer vir die welvaart en bloei van die delwerye en die uitreiking en beheer van lisensies, wat die invordering van lisensiegelde ingesluit het. Die gesagsbasis van die mynkommissaris was nie beperk tot 'n spesifieke dorp of distrik nie, maar uitgebrei oor die spesifieke goudveld waarvan delwerye onder sy beheer geplaas was.2 Ockerse het met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog oor sowat vyftig myne en delwerye toesig gehou.
'n Spesiale Landdros met kriminele en siviele gesag was vir elke geproklameerde goudveld aangestel. Net soos in die geval van die mynkommissaris, kon die Spesiale Landdros nie buite die geproklameerde gebiede geregtelike gesag uitoefen nie. JC Human was die eerste Spesiale Landdros vir Krugersdorp.3
Die instroming van mense na die delwerye het die behoefte aan 'n dorp in die omgewing
laat ontstaan. Die proklamering van die Paardekraal-delwerye het gepaard gegaan met 'n aanbod van "Vaal Martiens" Pretorius dat die Regering 428 hektaar van sy plaas koop vir die vestiging van 'n dorp. Op hierdie wyse het die teenwoordigheid van goud op die plaas Paardekraal direk bygedra tot die stigting van Krugersdorp, wat op Pretorius se versoek na Paul Kruger vernoem is.4 Die eerste 200 standplase was op 'n publieke veiling op 31 Oktober 1887 "verkoop" onder die 99 jaar huurpagstelsel. Die "publieke verpachting van het voorkeurrecht standplaatsen" het beteken dat die koper vir 99 jaar besitreg van 'n standplaas verkry het op voorwaarde dat hy nie agterstallig raak in die betaal van sy standlisensiegelde nie. Die standlisensiegeld het gewissel tussen tien en vyftien sjielings per maand.5
Die dorp het slegs die omliggende goudvelde bedien. Die inwoners van die omliggende plase het vir administratiewe, militêre en regsdoeleindes in die distrikte Pretoria, Potchefstroom, Rustenburg en Heidelberg geval.6 'n Distrikslanddros, bygestaan deur vrederegters en ander amptenare, was in beheer van die distrikte. Die behoefte aan 'n selfstandige landdrosdistrik vir Krugersdorp het toegeneem namate die standplaasdorp uitgebrei het en meer "burgerlikes" soos handelaars en professionele persone hulle in die dorp kom vestig het. Die proklamering van die Krugersdorp landdrosdistrik7 in 1894 met 'n afsonderlike "distriksdorp" as setelplaas, is 'n baie belangrike gebeurtenis in die ontwikkeling van Krugersdorp. Nie alleen het dit gelei tot die uitbreiding van die dorp nie, maar daar is vir die eerste keer oorgegaan tot die private besit van vaste eiendom in Krugersdorp. Die "distriksdorp" is in 1897 noordwes van die klipstapeling (monument) aangelê en opgemeet in 309 burgerregerwe van ongeveer 400 vierkant Kaapse roede (ongeveer 39.65424m2)8 elk, in blokke van ses erwe elk. Die nuwe "distriksdorp" is deur 'n spruit van die bestaande standplaasdorp geskei.9
Voortvloeiend uit die totstandkoming van die "distriksdorp", is die vestiging van afsonderlike regeringskantore in Krugersdorp om die amptenare van die nuwe dorp te huisves. Dit het geïmpliseer dat die dorp oor die dienste van twee landdroste, JC Human as Spesiale Landdros vir die delwerye en H Hugo as Distrikslanddros, beskik het. Dit het ook meegebring dat twee Gesondheidskomitees, een vir elke dorp, verantwoordelik was vir die higiëne en algemene welsyn van die dorpe en die inwoners. Krugersdorp is eers ná die Anglo-Boereoorlog, met die totstandkoming van die munisipaliteit, tot 'n eenheid saamgesnoer.
Die oorspronklike dorpsuitleg van sowel die standplaasdorp as die distriksdorp het geen voorsiening gemaak vir die vestiging van swart mense in Krugersdorp nie. Wetgewing het ook geen duidelike riglyne gegee oor swart mense se toegang tot blanke woongebiede nie. Diegene wat hulle wel in die dorp bevind het, was daar as inwonende huisbediendes. Die meerderheid swart mense was mans wat op die delwerye in die myne gewerk het, en waar hulle in kampongs gehuisves was. Baie van hulle moes vir hulle self sorg sodat 'n swart nedersetting geleidelik op die suidwestelike periferie van die blanke dorp ontwikkel het. Die vestigingspatroon hiervan was baie onordelik. Streng gesproke was die inwoners van die nedersetting plakkers. Die regering van die dag en die gesondheidskomitee het weinig aandag gegee aan die vestiging van die swart mense. Die nedersetting is eers in 1905 as 'n "lokasie" geproklameer.10
Die eerste Indiërs het hulle in ongeveer 1897 permanent in Krugersdorp kom vestig. Die dorpsuitleg het geen voorsiening gemaak vir 'n afsonderlike woongebied vir die Indiërs nie en die blankes het hulle nie in die blanke woongebiede toegelaat nie. Die ontwikkeling van 'n Indiërwoongebied tussen die swart nedersetting en Burgershoop, is sprekend van die Indiër se denkwyse om sy besigheid naby sy klandisie te vestig. As sakemanne kon die Indiërs nie kompeteer met die blanke nie, daarom dat hulle op die armblanke en die swart mense as klandisie gefokus het. Die regering het reeds in 1896 besluit om Burgershoop steenmakerye te ontwikkel as 'n heenkome vir "arme boeren".11 Daar was dus 'n aansienlike konsentrasie armblankes in Burgershoop
Krugersdorp het vanaf sy ontstaan 'n baie kosmopolitiese samestelling gehad as gevolg van die instroming van mense uit alle uithoeke van die wêreld na die delwerye. Die bestaan van afsonderlike woongebied het bygedra tot die ontstaan van sosiale stande gebaseer op woongebied, inkomste en arbeid, wat vandag nog 'n nalatenskap in Krugersdorp het. In hierdie tyd het Frederick Tossel as polisieman vir hom naam gemaak met die gevangeneming van Suid-Afrika se eerste bankrower en die jong Danie Theron het hom as prokureur op die dorp gevestig. Die spontane verdeling van die gemeenskap in sosiale klasse was veral opmerklik in die sosiale verkeer van die gemeenskap.
Dit was egter die sogenaamde buitelanders wat op ekonomiese gebied 'n leidende rol gespeel het en as sosiale leiers die sosiaal-kulturele grondslag van Krugersdorp gelê het: Abner Cohen (Hotelier), Josef Seehoff en Harvey Greenacre (Algemene Handelaars) en die Hartleys van Hekpoort. Die meerderheid van die inwoners was egter van 'n bestaansekonomie, hetsy as delwer, waterkardrywer, steenmaker of groentekweker, afhanklik. Werksgeleenthede was skaars en armoede onder blankes en swart mense was algemeen.
Die Jamesoninval
Die Jamesoninval van 1895/96 in die ZAR was die gevolg van 'n sameswering tussen lede van die goudmynmagnate aan die Rand, die sogenaamde Reform Committee, teen die regering van die dag.
Goud het ongekende voorspoed vir die Republiek gebring, maar ook 'n vloedgolf uitlanders wat op die lange duur ontevrede was met die wyse waarop die regering hulle belange hanteer en beskerm het. In die lig van hierdie groeiende ontevredenheid het Cecil John Rhodes, een van die goudmagnate, 'n geleentheid gesien om sy ideaal tot Ryksuitbouing te verwesenlik.12 Met sy vriend, dr Leander Starr Jameson, en die Reform Committee het hulle saamgesweer om onrus in Johannesburg tot so 'n vlak op te sweep dat 'n inval van dr Jameson, op uitnodiging van die Reform Committee, en die omverwerping van die Regering as 'n daad van menslikheid en redding beskou sou word.13
Verskeie faktore het daartoe bygedra dat die Reform Committee nie die steun geniet het waarop hulle staatgemaak het nie en die dag toe Jameson die Republiek inval, kon hulle nie die beloofde ondersteuningsmag op die been bring nie. Alle pogings van hulle kant om die inval af te las, het misluk, deels as gevolg van verwarrende beriggewing en die voortvarende optrede van Jameson wat tot op die laaste, opdragte om nie die Republiek in te val nie, geïgnoreer het.14
Die invalsmag het op die Betchuanaland (Botswana) grens by Pitsani saamgetrek en die nag van 29 Desember 1895 die Zuid-Afrikaansche Republiek ingeval.15 Die opmars na Johannesburg het aanvanklik sonder teenslag vinnig gevorder tot in die omgewing van Krugersdorp. Hier het die Boerekommando's vir die eerste keer teenstand gebied, omdat die dorp oënskynlik deur die invalsmag bedreig was, alhoewel Jameson by herhaling gesê het dat hy nie die land betree met vyandelike bedoelings nie, maar omdat hy reageer op 'n uitnodiging van vooraanstaande inwoners aan die Rand om hulle te help om geregtigheid te laat geskied.16 Desnieteenstaande het hy 'n berig aan Krugersdorp gestuur dat hy die dorp sal bombardeer indien die Boerekommando's poog om die inval te stuit.17
Die invalsroete het vir die grootste deel oor 'n ylbewoonde, gelyk gebied gestrek. Die onbewoonde oop vlaktes van die Wes-Transvaal het aanval en verdediging bemoeilik. Die heuwelagtige omgewing naby Krugersdorp het hom beter geleen tot 'n offensief teen die invalsmag. Dit was waarskynlik 'n belangrike oorweging waarom die Boerekommando's vir die eerste keer by die Queens Battery Gold Mine wes van Krugersdorp met die invalsmag slaag geraak het.18
Na die nederlaag by die Queens Battery het die invalsmag suidwaarts in die rigting van Randfontein teruggeval, waar hulle in die nag oor die spoorlyn is in die hoop om die volgende dag aansluiting te vind by die Potchefstroom-Johannesburg Koetsroete. Jameson het egter gou uitgevind dat die roete van sy mag deur die Boere gedikteer word. Al vegtende het hulle hom in 'n posisie ingedwing waaruit hy nie kon kom nie. Jameson was uiteindelik verplig om op 2 Januarie 1896 op die plaas Vlakfontein aan Generaal Cronje oor te gee.19
Die Boere het 'n verslae invalsmag gevange geneem. Vandat hulle op 29 Desember 1895 die grens oorgesteek het, tot met hulle oorgawe, was die invalsmag se opmars oorskadu deur Boere wat hulle aan alle flanke dopgehou het. Tog het hulle bly glo dat hulle toegelaat sou word om Johannesburg te bereik, omdat hulle nie aangeval was nie. Die hoop dat 'n ondersteuningsmag volgens belofte by Krugersdorp by hulle sou aansluit, het hoog gebrand tot met die eerste skermutseling by die Queens Battery. Nogtans het die invalsmag volhard in hulle pogings om Krugersdorp te bereik. Jameson se hardkoppige voortvarendheid en sy geloof in die beloftes van sy vriende, die Reform Committee, was volgens Hole20 te blameer vir sy volgehoue pogings om Krugersdorp te bereik. Hy het selfs die aanbevelings van sy offisiere om, na die skermutseling by die Queens Battery, direk na Johannesburg te gaan, verontagsaam.
Nadat die invalsmag op Vlakfontein gevange geneem is, is hulle na Krugersdorp geneem waar hulle met "rough consideration" op die Markplein van voedsel voorsien is.21 Volgens oorlewering was Jameson self in die selle van die landdroshof aangehou, maar geen stawing kon hiervoor gevind word nie. Dit is onwaarskynlik dat hy in die hofselle aangehou was. Dit is waarskynliker dat hy met sy offisiere en troepe op die markplein aangehou was terwyl Generaal Cronje 'n telegram na Pretoria gestuur het rakende die oorgawe van die invalsmag. 'n Groep burgers uit Waterberg het laat vir die skermutselings en aksie opgedaag. Hierdie manne wou met alle geweld die invallers voor die loop van hulle gewere kry, toe Cronje inderhaas besluit het om die invalsmag onmiddellik na Pretoria te stuur. Die offisiere het hy per muilwa vervoer, terwyl die troepe onder sterk begeleiding die afstand moes afmarsjeer. Teen die aand was die hele invalsmag, met die uitsondering van enkele gewondes, in die tronk in Pretoria opgesluit.
Die gewonde en dooie soldate moes deur 'n Kaptein Garraway en tien soldate onder bewaking van 'n aantal Boere op Vlakfontein versorg word. Volgens Garraway kon hulle eers teen laat die middag die dooies begrawe. Die gewonde soldate was met perdekarre na Krugersdorp geneem, waar hulle deur dr AG Viljoen, die distriksgeneesheer, in 'n tydelike hospitaal, ingerig in die winkel van Harvey Greenacre & Co, deur vyf dokters verpleeg is.22 Garraway berig verder, soos aangehaal deur Hole23 "...It was dark when I got back to the farmhouse ...The men were put on a wagon and I on a horse, and we started off quietly...After a long ride we arrived at Krugersdorp at 1 am, and I was left at the temporary hospital while the men were taken down to the courthouse..." Volgens hierdie inligting blyk dit dus duidelik dat Jameson self nie in die hofselle aangehou was nie, soos volgens oorlewering beweer word, maar dat minstens nege van sy troepe wel een nag daarin deurgebring het voordat ook hulle na Pretoria oorgeplaas is.
Die Jamesoninval en die gevegte rondom Krugersdorp is deurspek met legendes. In die mondelinge oorleweringe word waarheid en verdigsel ineengeweef. Een van hierdie oorleweringe berig van groot verwarring wat in Krugersdorp self geheers het. Al die vroue en kinders was aangesê om in die hofsaal bymekaar te kom vir beskerming. Die aanvanklike gerugte het gelui dat 'n groot mag swart mense op die dorp afmarsjeer. Die hofsaal was stampvol beangste mense. Baie het die beskerming van die saal verlaat en teruggekeer na hulle huise as gevolg van die ondraaglike hitte.24
Teenstrydige gerugte oor die inval het gelei tot die besonder dapper optrede van Luitenant Sarel Eloff, die plaaslike polisiehoof en kleinseun van President Paul Kruger. Eloff het met tien van sy manne 'n verkenningstog onderneem om meer kennis oor die bewegings van die invalsmag te bekom. By Boon se winkel op die plaas Rietfontein het hulle die invalsmag opgespoor. Eloff het alleen verder gegaan met die doel om persoonlik vir Jameson oor die inval te ondervra. Hy is dadelik gearresteer en na vele versoeke toegelaat om met Jameson te praat. Jameson het aan Eloff gesê dat hy nie die land betree het met vyandige bedoelings nie, maar dat hy slegs gereageer het op 'n versoek van sekere vooraanstaande inwoners aan die Rand. Eloff is daarna vrygelaat op voorwaarde dat hy twee ure moes wag voordat hy vanaf Boon se winkel sou vertrek om sy verslag aan sy bevelvoerders te bring. Hy het dit gedoen en na twee ure na die plaas van veldkornet Piet Steenkamp daar naby gery. Eloff se makkers het intussen na Krugersdorp teruggejaag en die kommandant van die nabyheid van die invalsmag in kennis gestel. Steenkamp het reeds begin om die burgers vir kommandodiens op te roep, toe Eloff daar opgedaag het.25
Die Jamesoninval het nie die einde van die "uitlanderkwessie" vir die Zuid-Afrikaanse Republiek beteken nie. Alhoewel die regering deur die gebeure gedwing is om sekere toegewings aan die uitlanders te maak, het die inval andersyds as 'n stimulus gedien wat tot groter politieke betrokkenheid deur die uitlanders gelei het. Die Jamesoninval het alle pogings om 'n Suid-Afrikaanse federasie van state op 'n vreedsame wyse tot stand te bring, die nek ingeslaan. "Hoe verreikend die gevolge van die mislukte inval ook al was, vervaag die belangrikheid daarvan wanneer dit uit die perspektief van die meeste swart inwoners van Transvaal beskou word. Selfs al het die inval geslaag, sou hulle nog steeds in 'n ondergeskikte posisie as 'n bron van goedkoop arbeid verkeer het. Wat die blanke gemeenskap betref, was die Jamesoninval egter 'n belangrike mylpaal op die pad na oorlog...Dit was duideliker as ooit tevore dat die onafhanklikheid van die republiek bedreig was, en die Kruger-regering het dus op groter skaal begin bewapen."26
Die Anglo-Boereoorlog
Na die Jamesoninval het die verhouding tussen Brittanje en die Zuid-Afrikaansche Republiek versleg. Die Zuid-Afrikaansche Republiek het hom nie net op politieke gebied vir oorlog teen Brittanje voorberei nie, maar ook sy verdediging opgeknap en sy burgers met meer moderne wapens begin toerus. Teen 1898 was oorlog onvermydelik en "President Kruger was daarvan oortuig dat daar opgetree moes word voordat die Britse militêre maatreëls voltooi was".27 Op 4 Oktober 1899 het Kruger 'n ultimatum aan die Britse Regering gestuur om die opbou van 'n troepemag in Suid-Afrika te stop en vyandelikhede teen die Republiek te staak. Teen 11 Oktober 1899 het die ZAR-regering geen reaksie op die ultimatum ontvang nie. Die Suid-Afrikaanse Oorlog het begin.
Hierdie oorlog is ook bekend as die Anglo-Boereoorlog of die Tweede Vryheidsoorlog. Terwyl geskiedskrywers in die verlede baie aandag aan die oorlog as 'n militêre offensief gegee het, is minder aandag aan die stryd van die nie-vegtendes om oorlewing op plase, in dorpe en in konsentrasiekampe gegee. Krugersdorp is geen uitsondering nie. Die optrede van die Krugersdorp Kommando in die oorlog en die heldedade van die burgers onder Generaals Ben Viljoen, Jan Kemp28, Jan Celliers en Sarel Oosthuizen is deur Van Aardt29 nagevors. Behalwe die vier generaals het Krugersdorp ook manne opgelewer soos kommandant JC Bodenstein en die beroemde Danie Theron. Van die vier generaals was Kemp waarskynlik die prominentste, terwyl die Krugersdorp Eeufeesalbum30 Viljoen as die kleurrykste figuur beskryf.
Krugersdorp Kommando
Die Krugersdorpkommando het in 1898 tot stand gekom met die oorlog teen Magato en Mpefu in die Limpopo Provinsie. Die kommando was in die Anglo-Boereoorlog bekend vir hulle hardnekkige teenstand, terwyl "The Times History of the War in South Africa" die kommando as die ruggraat van die Boeremagte in die Wes-Transvaal onder Generaal De La Rey beskryf.
Die Krugersdorpkommando het aan die begin van die oorlog met onderskeiding aan die Natalse front opgetree, waar hulle die agterhoede gedek het by Dundee en met onderskeiding opgetree as stormtroepe teen die Gordon Highlanders by Elandslaagte. By die Slag van Modderspruit, wat die beleg van Ladysmith bepaal het, het die Krugersdorpkommando onder velle geweervuur 'n koppie storm geloop om die uitbreek van Generaal French se Vyfde Lansiers te stuit. Later het hulle 'n gepantserde trein by Escourt onder aanvoering van Generaal Sarel Oosthuizen aangeval en by hierdie geleentheid die oorlogskorrespondent Winston Churchill gevange geneem. Die kommando het ook 'n leeueaandeel gehad in die slag van Colenso en die gevangeneming van Generaal Buller se artillerie en by Pietershoogte vir sewe dae hul man gestaan teen die aanval van die Iniskillings, Dublin Fusiliers en Cornaughts, waarna hulle aan die Slag van Magersfontein deelgeneem het. Na die oorgawe van Generaal Cronje by Perdeberg was die kommando in verskeie kleiner en groter veldslae betrokke, asook by die inval in die Kaapkolonie in 1901, terwyl Generaal JC Kemp en sy kommando verantwoordelik was vir die beskerming van die Krugersdorpdistrik. Die kommando het aan verskeie veldslae in die Wes-Transvaal deelgeneem, onder andere die Slag van Vlakfontein (30 Mei 1901), die Slag van Moedwil (30 September 1901), die Slag van Driefontein (24 Oktober 1901), die Slag van Yzerspruit (25 Februarie 1902), die Slag van Tweebosch (7 Maart 1902), die Slag van Boschbult (31 Maart 1902) en die Slag van Roodewal (11 April 1902).31
Verskeie groter en kleiner skermutselings het in die omgewing van Krugersdorp voorgekom. Die uitsondering is die hewige skermutseling by Dwarsvlei ongeveer 15 kilometer noordwes van Krugersdorp op die pad na Hekpoort. Generaal-majoor HA Smith-Dorien was met 'n mag saamgestel uit Gordon Highlanders, Shopshire Light Infrantry, Imperial Yeoman en die 7th Battery Royal Field Artillery oppad na Hekpoort toe hy deur 'n Boeremag onder aanvoering van Generaal Sarel Oosthuizen by Dwarsvlei gestuit is. Smith-Dorien het met die grootste deel van die Britse mag teruggekeer na Krugersdorp terwyl 'n afdeling van die Royal Scottish Fusiliers onder aanvoering van Kaptein Trenchard die Boere moes terughou. Trenchard is in die daaropvolgende skermutseling swaar gewond, terwyl Kaptein Younger van die Gordon Highlanders gesneuwel het. In 'n laaste poging om een van die veldkanonne buit te maak is Generaal Oosthuizen noodlottig gewond. Hy het enkele dae later aan sy wonde beswyk. Kaptein William Gordon en Kaptein Younger (postuum) van die Gordon Highlanders is vereer met die Victoria Cross vir hulle heldhaftige optrede om die kanon en gewondes te beveiling.
Die Slag van Nooitgedacht in die Hekpoortvallei het op 13 Desember 1900 plaasgevind. Die Boeremagte onder Generaals De la Rey, Smuts en Beyers het hier die Britse mag onder Generaal-majoor Clements verslaan. Alhoewel Clements daarin geslaag het om met ongeveer tweederdes van sy mag te ontsnap, het die Boeremagte die oorwinning behaal en 'n groot hoeveelheid voorrade, trekdiere, gewere en ammunisie gebuit. Altesaam 78 burgers en 332 Britse soldate het in die Slag van Nooitgedacht gesneuwel.32
Die Slag van Nooitgedacht kon die grootste nederlaag vir die Britse magte in die Anglo-Boereoorlog gewees het as die Boeremagte daarin geslaag het om Clements met sy hele kamp en mag gevange te neem. Die Boeremagte het egter die inisiatief verloor, wat Pakenham toeskryf aan die "loosely organised Boer armies, ill-disciplined and ill-coordinated".33 Ook Pretorius sien nie die Slag van Nooitgedacht as De la Rey se grootste oorwinning nie as gevolg van die burgers se ongedissiplineerde optrede en plunder van die Britse kamp voordat die oorwinning beklink is. Die Suid-Afrikaanse Oorlog was ver van "oor", soos in hierdie stadium voorspel is deur die Britse Oppergesag, alhoewel die verlies aan inisiatief die Boeremagte gedwing het tot 'n meer defensiewe vorm van guerrilla-oorlogvoering.
Toestande in die dorp
Min besonderhede is bekend oor die omstandighede in Krugersdorp tydens die oorlog. Die dorp het direkte aanvalle en beleëring vrygespring. In Junie 1900 is die dorp sonder slag of skoot deur Generaal Archibald Hunter ingeneem en onder Krygswet geplaas. Die Britse troepe het volgens oorlewering hulle hoofkwartier ingerig in die Distriksdorp, in 'n huis wat vandag bekend is as die Kilmarnochhuis. Schutte34 gee aandag aan die toestande in die dorp voor die afkondiging van Krygswet, maar meld ook dat argivale inligting hoofsaaklik oor krygsverrigtinge handel en dat inligting oor toestande in die dorp "uiters skaars" is. Hy gee in sy navorsing aandag aan die verwarring wat onder die inwoners geheers het en probleme wat die landdros ondervind het in die bestuur van die dorp nadat Johannesburg in 1900 ingeneem is.
Krygswet het geïmpliseer dat die beweging van die inwoners ingeperk was. Die militêre regering het in 'n buitengewone koerant op 5 Julie 1900 alle openbare byeenkomste en vergaderings vir die duur van die Krygswet verbied. Verder was geen persone sonder 'n geldige reispermit toegelaat om die dorp te verlaat, of om op die platforms van die stasie te wees nie.35
Krugersdorp was nie die nood en ellende wat die oorlog meegebring het, gespaar nie. Die skaarste aan lewensmiddele het nie net die slagoffers in die konsentrasiekamp geraak nie, maar ook die inwoners van die dorp en distrik. Die toestand is vererger deur die sluiting van die winkels, kantiene en hotelle omdat die eienaars met die uitbreek van die oorlog, die dorp verlaat het. Desnieteenstaande het 'n paar van die groter besighede, onder andere Hompes en Seehoff, Harvey Greenacre en McCloskie en Te Water, voortbestaan en volgens Schutte 'n ontskatbare diens aan die gemeenskap gelewer. Die meeste gesinne wat broodgebrek gely het, was op die Krugersdorpse goudvelde woonagtig. Hulle nood is vererger met die sluiting van die myne.36 'n Voedingskema37 en 'n mediese hulpskema is in die lewe geroep.38 Die noodlenigingsprogram is later na die Krugersdorp Konsentrasiekamp uitgebrei.
'n Gesondheidskomitee is in Oktober 1901 in die lewe geroep onder die Britse militêre bewind om die bestuur van die dorp oor te neem. Die komitee het bestaan uit vier lede en die Assistent Resident Magistraat. Die Gesondheidskomitee het met die stigting van die Krugersdorp Munisipaliteit op 5 Desember 1903 ontbind.39
Die Zuid-Afrikaansche Republiek is op 1 September 1900 deur Lord Roberts, opperbevelhebber van die Britse magte in Suid-Afrika, as Britse kolonie geannekseer. Die nuwe kolonie het as The Transvaal Colony bekend gestaan en al die inwoners daarvan is as Britse onderdane beskou. Inwoners in die dorpe was verplig om 'n opname te maak van al hulle besittings, waarvoor 'n permit uitgereik was. Die doel hiervan was om te voorkom dat die vegtende burgers van lewensmiddele voorsien word. Landdros JC Human was met MWP Pretorius, CC de la Rey, S von Blommenstein, A Vorster, A te Water en D Grundlingh deur die Britse militêre bestuur as kwaadstokers beskou. Blykbaar was almal bejaarde manne wat nie aktief aan die oorlog deelgeneem het nie, maar gereeld in die dorp byeengekom het om inligting rakende die oorlog uit te ruil. Human was ook daarvan verdink dat hy inligting by Britse offisiere inwin en dan op een of ander manier aan die Boere deurgee (volgens oorlewering het hy van honde gebruik gemaak om boodskappe na die Boere te neem) en dat hy gevange burgers of "hensoppers" beïnvloed het om terug te keer na die kommando's en die oorlog voort te sit.40
Met die anneksasie van die Zuid-Afrikaansche Republiek het die Britse magte gedink dat die oorlog feitlik oor was en dat die oorblywende weerstand van die burgers te velde, gou afgebreek sou word. Brittanje sou egter 'n duur les leer. Die taak om die laaste "opruiming" te doen, was aan Roberts se opvolger, Lord Kitchener, oorgelaat. Die burgers het egter besluit om die stryd voort te sit in 'n nuwe guerrilla-oorlog. Die nuwe oorlog was volgens Pakenham41 "een wat ewe veel tyd, geld en lewens sou kos en wat ook veel bitterder sou wees, omdat die burgerbevolking regstreeks daarby betrokke was".
Alhoewel die NG-Kerk 'n skool in Kerkstraat voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog bedryf het, was geletterdheid in 'n groot mate afhanklik van tuisonderrig. Die Kerkstraatskool het met die uitbreek van die oorlog gesluit, maar in 1901 sy deure heropen toe die Britte met hulle verengelsingsbeleid begin het. In hierdie tyd het JH Grundlingh ook 'n private skool met 100 leerlinge in 'n voerpakhuis in Ockersestraat geopen. Hy het twee Hollandssprekende onderwyseresse, mejuffroue F van Binnedyk en H Putten teen vyf pond per maand in diens geneem.42
Konsentrasiekampe in Krugersdorp
Die Britte se "verskroeide aarde" beleid, waartydens plaashuise en landerye vernietig en afgebrand is, en die opkommandering van lewende hawe as voedsel vir die Britse magte, het duisende vroue en kinders weerloos gelaat. In September 1900 het Lord Roberts opdrag gegee dat vlugtelingkampe opgerig moes word. Lord Kitchener het later opdrag gegee "dat alle nie-strydendes in sekere gebiede na die kampe verwyder moes word, en teen die einde van die oorlog was daar meer as veertig kampe wat 116 000 blankes gehuisves het, en meer as sestig afsonderlike kampe met ongeveer 115 000 swartes".43
Krugersdorp het een van die grootste konsentrasiekampe in die Transvaal Colony gehad. Die kamp was noordoos van die Park44 teen die hange van die heuwel naby die Paardekraal monument aangelê. 'n Nabygeleë fontein en spruit het water aan die kamp en die dorp voorsien.45 Die watervoorsiening was nie standhoudend en voldoende nie. Besoedelde water as gevolg van die groot hoeveelheid mense wat daarvan afhanklik was, het 'n groot gesondheidsprobleem ingehou. Een van die kampkinders, CSE Ackerman, onthou dat daar 'n groot samedromming by die waterpunt was. Die water het drupsgewys uit die pomp gekom.46
'n Britse garnisoen was noordoos van Krugersdorp gestasioneer. 'n Blokhuis bo-op die heuwel bokant die konsentrasiekamp, het 'n oog oor die dorp en kamp gehou. Die superintendent van die kamp was 'n meneer Tomlinson en die permanente mediese offisier dr Aymard.47
Die toestande in die Krugersdorp konsentrasiekamp was nie veel anders as in vele ander kampe tydens die oorlog nie. Swak, oorvol behuising, karige voedselrantsoene en nog kariger ander lewensmiddele soos meubels en komberse, was aan die orde van die dag. Volgens die "Ladies Commission" wat in die dorp in die lewe geroep was om die lot van die kampinwoners te verlig was daar 'n groot onvermoë aan die kant van kampbewoners om in hulle eie behoeftes te voorsien, of om hulle lewensomstandighede te verbeter.48 Dit moes baie moeilik gewees het om onder die traumatiese ervaring van gevangeneming, vernietiging van huis en eiendom en die ontberende reis by die kamplewe aan te pas. Dit was veral 'n Engelse dame, Emily Hobhouse, wat die onregverdige behandeling en bars optrede van die Britse soldate teen vroue en kinders in die kampe onder die aandag van die Britse Regering gebring en dit 'n lewenstaak gemaak het om die lot van kampbewoners reg oor Suid-Afrika te verlig. Ook die Krugersdorp Konsentrasiekamp het voordeel hieruit getrek.
Dit was veral voedselrantsoene wat verbeter het. Aanvanklik het Lord Kitchener opdrag gegee dat die gesinne van mans wat oorgegee het, beter huisvesting en voedsel moes kry as die gesinne van strydende manne.49 Hierdie rantsoene was in twee groepe verdeel, naamlik Klas I en Klas II. Die rantsoene van Klas I was uitgereik aan gesinne waar die manne bereid was om werk vir die Britte te verrig. Klas II was uitgereik aan die gesinne wie se mans nog strydende was, of geweier het om vir die Britse magte te werk.50 Die volgende rantsoene is per week aan 'n gesin uitgereik:
| |
Voedselrantsoene: Krugersdorp Konsentrasiekamp | Beskrywing | Klas I | Klas II | Meel | 7
lb | een keer per week | 7 lb | een keer per week | Koffie | 6
oz | een keer per week | 4 oz | een keer per week | Suiker | 12
oz | een keer per week | 8 oz | een keer per week | Sout | 4
oz | een keer per week | 4 oz | een keer per week | Vleis | 1
lb | twee keer per week | 1 lb | twee keer per week |
| | Figuur 1
'n Aanvullingsrantsoen van een pond mieliemeel was uitgereik wanneer beskikbaar. Rys is uitgereik wanneer beskikbaar. Melk was uitgereik aan siekes en kinders onder die ouderdom twee jaar.51 Dit is duidelik dat die bogenoemde voedselrantsoene skaars voldoende was om in die noodsaaklike voedselbehoeftes van 'n gesin te voorsien. Die getal lede in 'n gesin is klaarblyklik ook nie in aanmerking geneem in die bepaling van die grootte van die rantsoen nie. Uit foto's in die versameling van die Nasionale Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein, is dit duidelik dat ondervoeding algemeen in die konsentrasiekampe voorgekom het.
Daar is van die kampbewoners verwag om selfversorgend op te tree. ACE Ackerman, waarna reeds verwys is, het onthou hoe sy as tienjarige kind op 'n oop konka kos moes voorberei en daarna die skottelgoed gewas het. 'n Rantsoen kole is aan elke gesin uitgereik. Die plaasmense was gewoond om hout as vuurmaakmiddel te gebruik en volgens HJ van Jaarsveld52 het sy as kind ure in die veld naby die kamp rondgeloop op soek na mis en brandhout. 'n "Hensopper" wat sy nie by name genoem het nie, het vir hulle gewys hoe om in 'n konka met kole vuur te maak.
Dit is bekend dat vreemde voorwerpe soos vitrioel in kosrantsoene by verskeie konsentrasiekampe voorgekom het. CSE Ackerman53 maak in haar herinneringe aan die Krugersdorp Konsentrasiekamp, ook daarvan melding. Hester Maria Broodryk54 het as dogter deur 'n gat in die draad gekruip, mis in die veld opgetel en dit dan in die dorp vir vars melk verruil. Die moeder van HJ van Jaarsveld55 het 'n permit gehad om wasgoed vir soldate en inwoners in die dorp te was en te stryk. Sy het die blikkieskos wat hulle in die kamp gekry het, in die bondel gestrykte wasgoed uitgesmokkel. In die dorp het sy dit vir vars groente geruil, wat sy dan weer in die bondel wasgoed teruggesmokkel het. Op hierdie wyse het sy haar gesin relatief gesond gehou deur aan hulle gesonde voedsel voor te sit.
Dit is bekend dat siektes soos masels, maagkoors en longontsteking epidemiese afmetings in konsentrasiekampe aangeneem het. Die meer as 1800 grafte in die Krugersdorp
Begraafplaas in Burgershoop getuig daarvan dat Krugersdorp ook 'n hoë tol aan sterftes betaal het. Die onderstaande tabel gee 'n opsomming van die kindersterftes in die Krugersdorp Konsentrasiekamp vir die maande Oktober en November 1901. | |
Kindersterftes Oktober-November 1901 - Krugersdorp KonsentrasieKamp | Maand | Masels | Maag-
koors | Long- ontsteking | Uittering | King-
hoes | Epilepsie | Ander siektes | Totaal | Oktober | 48 | 6 | 10 | 3 | 1 | 1 | 1 | 70 | November | 25 | 3 | 2 | 1 | 0 | 3 | 1 | 35 | Totaal | 73 | 9 | 12 | 4 | 1 | 4 | 2 | 105 |
| | Figuur 2
Die kinders was met die uitsondering van een dogter van 17 jaar, almal onder die ouderdom 12 jaar. Die jongste kind was 'n baba van drie jaar. Van die ses volwassenes wat gedurende dieselfde periode gesterf het, het vier hartprobleme gehad, een vrou het tydens die geboorte van 'n kind gesterf en die ander een was 'n moeder van 33 jaar wat aan masels beswyk het.56 CG Snyman57 getuig hoe hy self 'n slagoffer van masels en kinkhoes in die kamp was. 'n Gesin "boesmantjies" het met die Van Jaarsveld-gesin58 die ontberinge in die Konsentrasiekamp deurgemaak. Volgens HJ van Jaarsveld het een van die "boesmantjies" in die kamp gesterf aan masels. Wanneer iemand in die kamp gesterf het, het die kampkommandant 'n fluitjie geblaas om almal van die afsterwe in kennis te stel, vertel JC Wolmarans.59 In die afwesigheid van 'n predikant, het haar oupa as die sieketrooster opgetree en die begrafnisdienste gelei.60
Die aanmelding van aansteeklike siektes en afsterwe van persone is op 8 Oktober 1900 afgekondig. As rede is aangevoer dat die afkondiging van die uitbreek van 'n aansteeklike siekte in openbare belang was, omdat voorkomende optrede vir die verspreiding van die siekte vroegtydig geneem kon word. Mediese beamptes het ingevolge hierdie proklamasie twee sjielings ontvang vir elke aansteeklike siekte wat hulle aangemeld het.
Die afsterwe van persone in die konsentrasiekamp is byna daagliks aangemeld. Proklamasie 10 van 1901 het bepaal dat die Resident Magistraat 'n ondersoek moes gelas na alle vinnige of "onnatuurlike" sterftes. Hy moes onderskei tussen gewelddadige dood en natuurlike dood.61
Die behandeling wat siekes in die kamphospitaal ontvang het, was nie altyd op standaard nie. Die moeder van CSE Ackerman62 het agteraf haar kind wat met masels in die kamphospitaal was, ook nog met boererate en "Hollandse medisyne" behandel. Dit is bekend dat die behandeling van siekes in die kamphospitale oor die algemeen hardhandig, onsimpatiek en ontoereikend was. Klagtes van kampinwoners en selfs Emily Hobhouse het dikwels op dowe ore geval. Eers na 1902 was daar daadwerklik pogings aangewend om die toestande te verbeter.
Teen die einde van 1901 was daar ongeveer 5 488 persone in die Krugersdorp Konsentrasiekamp en 'n verdere 3 382 swart mense in die konsentrasiekamp vir swart mense.63
Die swart mense en bruin mense was in die stryd tussen Boer en Brit vasgevang. In die Krugersdorp konsentrasiekamp was daar 'n onbekende aantal nie-blanke gesinne wat die lyding en ellende van die
kamplewe met die blanke "plaaseienaars" deurgemaak het. Daar is reeds verwys na die "boesmantjies" wat met die Van Jaarsveldgesin na die kamp geneem was. 'n Berig in Die Beeld van 3 Julie 199064 verwys ook na die teenwoordigheid
van swart mense in 'n Konsentrasiekamp in Krugersdorp: "Volgens eerwaarde E Farmer, 'n sendeling wat dié kampe gereeld besoek het, het gekleurdes in die Krugersdorp konsentrasiekamp hom vertel van hul vee, huise en landerye wat vernietig is.
Gesinne is opgebreek en baie van die mense het nie eens geweet of broers, susters, kinders en ouers meer leef nie". Die berig gaan voort om na ander konsentrasiekampe vir swart mense te verwys en som die omstandighede van die mense op as
"behoeftig en ellendig...baie gaan van dag tot dag dood...kan nie dink wat van die oorlewendes gaan word nie...hulle het alles verloor".
Die lyding en ellende wat die Afrikaner vroue en kinders in die konsentrasiekampe moes deurmaak, is bekend. Dat die lot van die swart mense en gekleurdes in die kampe net so erg was, is 'n feit wat tot onlangs min aandag in die geskiedskrywing ontvang het.65 Die toestande van die swart mense was dikwels veel hagliker as die van die blankes omdat hulle nie gereken was nie, maar gesien was as 'n bron van goedkoop arbeid. Deur swak omstandighede en power rantsoene was hulle gedwing om vir die Britse magte te werk as hulle wou oorleef.66
'n "Native Refugee Department" is in 1901 gestig om na die belange van die swart mense om te sien en arbeid vir die Britse magte te voorsien.67 Arbeid was vir 'n verskeidenheid funksies en projekte van die militêre regering nodig, onder andere om die goudmyne weer in bedryf te stel. Die volgende tabel gee 'n opsomming van die arbeidsituasie in die Krugersdorp Konsentrasiekamp. | |
Arbeidsituasie - Krugersdorp Konsentrasiekamp vir swart mense | Datum | Aantal
persone in kamp | Aantal in diens van regering | Aantal in diens van Kamp
superintendat | Aantal in private diens | | M | V | K | Totaal | M | V | K | M | V | K | M | V | K | Desember
1901 | 2335 | 422 | 625 | 3382 | 1288 | 190 | 0 | 0 | 0 | 0 | 2 | 10 | 9 | Maart
1902 | 428 | 640 | 1192 | 2260 | 31 | 0 | 0 | 46 | 28 | 2 | 4 | 13 | 11 | Julie
1902 | 385 | 638 | 1221 | 2244 | 266 | 0 | 2 | 38 | 6 | 3 | 22 | 27 | 21 |
| | M = Manlik V =
Vroulik K = Kinders | | Figuur 3
Al die magte en pligte
wat volgens die ZAR-wetgewing aan die lokasie superintendent opgedra is, is na die kampsuperintendent of naturelle kommissaris oorgedra.68
Voedselrantsoene was karig in die swart konsentrasiekampe. Swart mense wat bereid was om te werk het een sjieling loon per werkdag plus 'n gratis rantsoen ontvang. Die gesinne van hierdie swart mense het rantsoene teen halfprys ontvang. Hulle moes vir hierdie rantsoene betaal. Swart mense wat nie wou werk nie, maar sterk en gesond genoeg was om te werk, moes ook vir hulle rantsoene betaal. Bejaardes, swakkes, siekes en kinders het gratis rantsoene ontvang.69 In 'n poging om die swart konsentrasiekampe meer selfonderhoudend te maak, is die swart mense toegelaat om sedert Augustus 1901 groente en graan vir eie gebruik te verbou.70
Verskeie van die swart konsentrasiekampe moes as gevolg van die nuwe beleid, verskuif word na plase met geskikte landbougrond. Die Krugersdorp swart konsentrasiekampe is vanaf Roodepoort verskuif na die plaas Waterval aan die westekant van die dorp.71 Die verbouing van groente op Waterval was klaarblyklik suksesvol, want die Native Refugee Department wou nie die oes op die land na die plaaseienaar, AFH du Toit, aan die einde van die oorlog oordra nie. Slegs een derde van die oes was aan Du Toit afgestaan. Die Native Refugee Department het die res van die oes gehou as kompensasie vir hulle arbeid en uitgawes om die oes op die land te kry.72
Volgens navorsing van Van der Westhuizen was swart mense in 'n konsentrasiekamp te Krugersdorp geplaas voordat die kamp vir blanke vroue en kinders op die dorp gevestig is. Min inligting is oor die kamp beskikbaar, maar dit wil voorkom asof die grootste aantal vlugtelinge in Desember 1901 in die kamp was.73 Die konsentrasiekamp vir swart mense is in Oktober 1902, vyf maande na die einde van die oorlog, gesluit. Verskeie swart mense was huiwerig om na die oorlog terug te keer na die plase waar hulle voor die oorlog gewoon het.74 Die swart mense het gou geleer dat die oorlog en konsentrasiekampe nie veel aan hulle status en posisie in die land verander het nie. Die toekoms het vir hulle nie veel meer as loonarbeid ingehou nie. Van die verwagte modernisering van die arbeidsregulasies het niks gekom nie. Oor die algemeen het die swart mense gevoel dat hulle deur Brittanje verraai is.75
Die Krugersdorp Kampskool is in Mei 1901 opgerig en gehuisves in 'n groot markeetent, wat ook as kerk gebruik was. In hierdie stadium was daar 1 330 kinders in die kamp, waarvan 188 die skool bygewoon het. Die leerlingtal van die skool het gewissel. In Januarie 1901 het die skool 750 leerders met elf onderwysers gehad.76 Slegs godsdiensonderrig was in Hollands aangebied. Alhoewel die onderrig in die kampskole vir baie kinders die enigste geleentheid vir formele onderwys was, het die onderrig hulle nie voldoende gehelp om vir geskoolde arbeid na die oorlog te kwalifiseer nie.
Die Naoorlogse periode tot 1903
Die oorlog het op feitlik alle terreine van die samelewing verandering gebring. Wat 'n tydperk van groei en ontwikkeling moes wees, het vir die verarmde Boerebevolking 'n stryd om oorlewing geword. Die Assistent Resident Magistraat van Krugersdorp het die militêre administrasie van die dorp oorgeneem. Die eerste ses maande ná die vredesluiting in 1902 het die repatriasie van konsentrasiekamp inwoners en terugkerende krygsgevangenes voorkeur aandag geniet. Die Krugersdorp konsentrasiekamp is in November 1902 gesluit.77 Die mense was geestelik verslae en ekonomies lamgeslaan. Baie kon moeilik na die oorlog weer in hulle eie behoeftes voorsien.
Onder die voorsitterskap van die
Assistent Resident Magistraat is 'n kommissie in 1902 aangestel wat aansoeke van burgers om skadevergoeding moes ondersoek en keur. Die kommissie moes ook toesien dat hulpverlening aan oudburgers behoorlik geskied het. Volgens Esterhuizen het die
kommissie die burgers in drie groepe verdeel volgens die omvang van die skade wat hulle as gevolg van die oorlog gely het, naamlik:
Diegene wat feitlik alle besittings, vee en woonhuise verloor het en dadelik gehelp moes word.
Diegene wat
nie soveel verloor het nie en wel op eie stoom 'n begin kon maak, maar nogtans vir kompensasie in aanmerking gekom het. Diegene wat niks voor die oorlog besit het nie en dus niks tydens die oorlog verloor het nie, en daarom nie op hulpverlening of
kompensasie geregtig was nie.78
Voedsel en implemente kon op skuld gekoop word by depots van die Koloniale Regering. Baie van die verarmde inwoners is hierdeur by die Regering in die skuld gedompel. Daarby het die
owerheid ook 'n beleid gevolg om slegs Britse produkte vir die nuwe kolonie aan te koop.
'n Groot gedeelte van die inwoners was as gevolg van die oorlog gedwing om 'n bestaansekonomiese lewenswyse te volg. Dit kan veral van toepassing gemaak
word op die terugkerende burgers en die eertydse delwersgemeenskap, maar ook ten opsigte van die swart mense. Die hoë mortaliteit van babas onder die ouderdom van een jaar, kan as 'n aanduiding van die sosio-ekonomiese omstandighede in Krugersdorp
na die Suid-Afrikaanse Oorlog gebruik word.79. | |
MORTALITEIT VAN BABAS IN KRUGERSDORP, 1903-04 | Groep | Persentasie | Blankes | 66.6% | Nie-blankes | 88.7% |
| | Figuur 4
Die meerderheid handelaars en professionele persone was invloedryke figure wat nie net op
sakegebied aansien geniet het nie, maar ook as gemeenskapsleiers 'n belangrike aandeel in die bestuur van die dorp geneem het.
Krugersdorp het in 1903 nog gebuk gegaan onder die nagevolge van die Suid-Afrikaanse Oorlog. Op ekonomiese gebied
het die dorp 'n geldtekort ondervind, wat veral die handel gestrem het. Daarby was die goudmyne ook nog nie in volle produksie nie as gevolg van inherente probleme en 'n gebrek aan "goedkoop" arbeid. Die mobilisering van kapitaal en die
amalgamering van die kleiner goudmyne in een groot maatskappy sou eers in 1906 afgehandel wees.
Die inwoners van die dorp het betreklik afsonderlik gelewe. Die belangrikste woongebiede, naamlik die Standplaasdorp, Distriksdorp en Burgershoop,
was in hierdie stadium nog fisies van mekaar verwyderd met groot stukke oop ruimtes tussenin. Die afstand tussen die woongebiede het bygedra tot die ontstaan van 'n kunsmatige sosiale afstand tussen die inwoners van die Distriksdorp en die
Standplaasdorp aan die een kant en die inwoners van Burgershoop aan die ander kant. Die sosiale afstand is verder versterk deur die feit dat die inwoners van Burgershoop hoofsaaklik Afrikaanssprekendes was wat 'n heenkome op die steenmakerye moes
vind en die "verslane" volk verteenwoordig het, terwyl die mynbase, professionele persone en sakelui hoofsaaklik in die Distriksdorp en Standplaasdorp gewoon het. Die meerderheid van die mynbase, professionele persone en sakelui was van
Britse herkoms, of ondersteuners van die Britse imperiale optrede. Die Brits-koloniale lewenstyl wat die eerste dekades van Krugersdorp se geskiedenis gekenmerk het, kan grootliks toegeskryf word aan die professionele persone en sakelui wat in die
gemeenskap as sosiale leiers opgetree het. Die tweede geslag Afrikaanssprekendes in Krugersdorp sou eers teen die twintigerjare van die eeu 'n meer prominente rol in die samelewing begin speel het.
Die lewensomstandighede van die swart, bruin
en Indiër gemeenskappe was haglik. Die administratiewe bestuurstelsel voor 1903 het nie voorsiening gemaak vir behoorlike woongebiede vir die nie-blanke bevolkingsgroepe nie, omdat hulle verblyf in Krugersdorp as tydelik van aard gesien is. Dit is
veral waar ten opsigte van die swart mynwerkers wat na 'n vasgestelde kontrakperiode teruggekeer het na hulle stamgebiede. Die gevolg hiervan is dat die relatief onordelike vestiging van die nie-blanke gemeenskappe deur swak gesondheidstoestand
gekenmerk was.
Die Krugersdorpdistrik het swaar gebuk gegaan onder die gevolge van die oorlog. Waar die distrik voor die oorlog beskryf is as "...een van die mooiste, mees vrugbare en bes bewerkte dele in Suid-Afrika...met 'n onafgebroke reeks lande, tuine en behoorlike huise en plase ...", was dit na die oorlog "... 'n verwoeste, barre wildernis: al die lande is verniel, die bome van tuine is afgekap en met wortel en tak uitgehaal; die wonings is verbrand, die huise in vele gevalle nie alleen met vuur vernietig nie, maar ook met dinamiet opgeblaas, sodat geen steen onaangeroer gelaat is nie ... Geen lewendige dier, geen vrou, geen kind ...is te sien, sonder die tekens van angs, ellende, ja, selfs hongersnood, duidelik op die gelaat."80
Slotopmerking
Teen 1903 het Krugersdorp al die fisiese kenmerke van 'n dorp gehad, naamlik kulturele, administratiewe en ekonomiese funksies, fisieke strukture (geboue, strate, ensovoorts) en 'n ordelike rangskikking van die ingesetenes, geboue en instellings".81 Werklike dorpsgroei het egter eers na die totstandkoming van munisipale bestuur ingetree toe die dorpsraad op 'n meer georganiseerde wyse aandag aan huishoudelike sake gegee het.
Teen 1903 het Krugersdorp 19 483 inwoners gehad. Hiervan was 3 224 persone onder die ouderdom van vyftien jaar en 16 259 ouer as vyftien jaar. Die bevolkingsamestelling82 word in die Burgemeestersverslag soos volg weergegee: | |
Krugersdorp: Bevolkingstatistiek 1903 | Ras | Mans | Vroue | Totaal | Blank | 3982 | 2675 | 6
657 | Swart mense | 11 307 | 784 | 12
091 | Bruin mense/Indiers | 500 | 235 | 735 | Totaal | 15
789 | 3694 | 19 483 |
| | Figuur 5
Let op die skerp kontras in die statistiek vir swart mense as 'n aanduiding van die hoeveelheid mans wat sonder hulle gesinne as trekarbeiders in Krugersdorp gewoon en op die myne gewerk het.
Swak
maatskaplike toestande, armoede, werkloosheid en 'n gebrek aan behoorlike huisvesting onder 'n groot deel van die bevolking, insluitende die swart en Indiër gemeenskappe, is van die ernstigste nagevolge van die Suid-Afrikaanse Oorlog waarmee die
nuwe munisipale raad wat in 1903 tot stand gekom het, te kampe sou hê. Die ontwikkeling van 'n munisipale bestuurstelsel en infrastruktuur het langsamerhand, maar doelgerig geskied. Die sosiaal-kulturele ontwikkeling van Krugersdorp moet egter in
die lig van die nasionale politieke beleid en denkwyses van die tyd gesien en verstaan word. | |
|
|
Voetnotas | | 1 TAB, Pretoria,
ZAR, band 24, Executive Council resolutions 1886-1899, Besluit Uitvoerende Komitee, 26 Apr 1887, Art.327; Besluit, Uitvoerende Komitee, 5 Jun 1888, Art 305
2 MA Schutte, Die geskiedenis van Krugersdorp..., p 12
3 TAB, Pretoria, ZAR, band 26, JG Kotze, Locale Wetten en Volksraadbesluiten der Zuid-Afrikaansche Republiek 1886-1887, Art 24, Wet 8 van 1885, p 67. Kyk ook MA Schutte, Die geskiedenis van Krugersdorp..., p 13
4 Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling, inligtingslêer K57, Krugersdorp: Oorsprong van naam, sd
5 MA Schutte, Die geskiedenis van Krugersdorp..., p 20. Kyk ook Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling, inligtingslêer K72, Krugersdorp: Stigting, sd
6 Die regering het die ongeproklameerde plase en goudvelde as afsonderlike eenhede beskou. 'n Afsonderlike landdrosdistrik met 'n eie setel moes vir die plase geskep word. Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling, inligtingslêer
K13, Krugersdorp, vroeë geskiedenis, sd
7 Vir besonderhede oor die stigting van die Krugersdorp landdrosdistrik, raadpleeg MA Schutte, Die geskiedenis van Krugersdorp..., pp 24-32; Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling, inligtingslêer K24, Krugersdorp, Akte van
Transport, sd
8 Keartland's Metrieke omsettingstabelle, Een Kaapse voet is gelyk aan 0.079135 vierkant meter, tabel 15
9 TAB, Pretoria, MKR, band 2/3/1/119, korrespondensielêer G9, Konsep dorpbeplanningskema, Maart 1939
10 Raadpleeg vir verdere besonderhede oor die swart woongebied, die afdeling oor Residensiële ontwikkeling in hoofstuk vier
11 Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling, Mayor's Minute for the year ending 31 October, 1908, p 24
12 JS du Plessis, "Die Suid-Afrikaanse Republiek"..., p 256. Kyk ook TAB, Pretoria, ZAR, band 92, pamflet, W Harcourt, Een banier drager der geregtigheid
13 TAB, Pretoria, ZAR, band 92, Vol 2, Telegram Nr 61, pp 44-46. Vir volledige besonderhede oor die Jamesoninval, raadpleeg: HM Hole, The Jameson Raid; Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling, inligtingslêer J1, Jameson
Raid, sd
14 TAB, Pretoria, ZAR, band 92, Telegram Nr 24, p 8; Telegram Nr 37, p 12
15 TAB, Pretoria, ZAR, band 92, Telegram Nr 2, p 1; Telegram Nr 19, p 6
16 TAB, Pretoria, ZAR, band 92, Brief Nr 37,38, pp 12,13. Kyk ook H.M. Hole, The Jameson Raid, pp 166,167
17 H.M. Hole, The Jameson Raid, p 180
18 TAB, Pretoria, ZAR, band 92, Telegram Nr 29-34, pp 10,11
19 TAB, Pretoria, ZAR, band 92, Telegram Nr 46-48, p 15
20 HM Hole, The Jameson Raid, p 174; TV Bulpin, Lost trails of the Transvaal, p 353; Biblioteek, Krugersdorp,, Africanaversameling, inligtingsleêr J1, H Zeederberg, "The Jameson Raid changed SA history", The Star, 10
Dec 1965
21 TAB, Pretoria, ZAR, band 92, Telegram Nr 49, p 16
22 CNJ du Plessis, Uit die geskiedenis van de Zuid-Afrikaansche Republiek en van de Afrikaanders, pp 168-170. Kyk ook TAB, Pretoria, ZAR, band 92, Telegram Nr 50, p 46
23 HM Hole, The Jameson Raid, p 191
24 Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling, inligtingslêer K20, "A woman pioneer's early recollections: Mrs Honora Wiltshire's impressions of Krugersdorp", The Standard and West Rand Review, 17 Sept 1937
25 HM Hole, The Jameson Raid, pp 166-174
26 AM Grundlingh, "Die voorspel tot die Tweede Anglo-Boereoorlog, 1881-1899", T Cameron & SB Spies, Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika in woord en beeld, p 192
27 AJH van der Walt, "Vier jare van spanning", AJH van der Walt, ea, Geskiedenis van Suid-Afrika, Derde bygewerkte uitgawe, Tweede druk, p 406
28 Generaal Kemp het 'n boek oor die Suid-Afrikaanse Oorlog gepubliseer. Kyk JGC Kemp, Vir vryheid en vir reg
29 JMH van Aardt, Die aandeel van die Krugersdorp kommando aan die Tweede Vryheidsoorlog, 1899-1902 (ongep MA- verhandeling, PU vir CHO, 1950)
30 W de Klerk (red), Krugersdorp 100 jaar/years, pp 61,62
31 Raadpleeg JMH van Aardt, Die aandeel van die Krugersdorp kommando..., en JCG Kemp, Vir vryheid en vir reg, vir besonderhede oor die optrede van die Krugersdopers in die Suid-Afrikaanse Oorlog
32 'n Gedenksuil is in die Krugersdorp Begraafplaas vir die gesneuwelde soldate opgerig. Persoonlike waarneming na ondersoek ter plaatse
33 T Pakenham, The Boer War, illustrated edition, pp 242,243
34 MA Schutte, Die geskiedenis van Krugersdorp..., pp 92-119
35 Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling, inligtingslêer A14, Anglo Boer War, sd
36 MA Schutte, Die geskiedenis van Krugersdorp..., pp 110-112. Kyk ook Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling, Government Gazette, 22 Nov 1901, p.1649
37 'n Lewensmiddele Komitee is reeds voor die aanvang van die oorlog deur die ZAR-regering in die lewe geroep met die spesifieke opdrag om om te sien na die behoeftes van die vrouens en kinders terwyl die mans kommandodiens
verrig. SJ Esterhuizen, Die ekonomiese en maatskaplike toestande van die gewese republikeinse burgers in die Transvaal-kolonie, 1900-1910 (ongep D Phil.-proefskrif, UP, 1965), p.31
38 MA Schutte, Die geskiedenis van Krugersdorp..., pp 112,113
39 Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling, Mayor's Minute for the year ending 25 October 1904, p 3
40 TAB, Pretoria, PM, band 6, verw. 429, Verslag Lt Col. HT Hicks (Krugersdorp)-Provost Marshall, 1 Des 1901
41 T Pakenham, "Die Tweede Anglo-Boereoorlog, 1899-1902"; T Cameron & SB Spies, Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika in woord en beeld, p 212
42 JH Dippenaar, Onderwys van Blankes in Krugersdorp, 1887-1939, pp 101-102
43 T Pakenham, "Die tweede Anglo-Boereoorlog"..., p 214
44 Die Park is later die "Coronation Park" genoem na aanleiding van die kroning van Eduard VII as koning van Engeland in 1902. Biblioteek, Krugaersdorp, Africanaversameling, inligtingslêer C13, Coronation Park, sd
45 Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling, inligtingslêer C20, Concentration Camp, sd
46 Nasionale Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein, band OM 5890/89, Brief CSE Ackerman -Organiseerders Herdenkingsfees, Krugersdorp Konsentrasiekamp, 1982
47 Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling, inligtingslêer C20, Concentration Camp, sd
48 Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling, inligtingslêer C20, Ladies Commission, sd
49 T Pakenham, "Die Tweede Anglo-Boereoorlog"..., p 14
50 Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling, inligtingslêer C20, Concentration Camp, sd
51 Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling, inligtingslêer C20, Concentration Camp, sd. Volgens Keartland's Metrieke omsettings tabelle, is een ons gelyk aan 28,39524 gram (tabel 29) en een pond gelyk aan 0,453 59237
kilogram (tabel 31)
52 Nasionale Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein, band OM 5890/89, Brief HJ van Jaarsveld -Organiseerder Herdenkingsfees, Krugersdorp Konsentrasiekamp, 1982
53 Nasionale Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein, band OM 5890/89, Brief CSE Ackerman -Organiseerder Herdenkingsfees, Krugersdorp Konsentrasiekamp, 1982
54 Nasionale Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein, band OM 5890/89, Brief HM Broodryk - Organiseerder Herdenkingsfees, Krugersdorp Konsentrasiekamp, 1982
55 Nasionale Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein, band OM 5890/89, Brief HJ van Jaarsveld -Organiseerder Herdenkingsfees, Krugersdorp Konsentrasiekamp, 1982
56 Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling, Government Gazette, 22 Nov 1901 p 1653; Government Gazette, 6 Des 1901, pp 1723-1724. Kyk ook Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling, inligtingsleêr V10, Vrouekampe, sd
57 Nasionale Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein, band OM 5890/89, Brief GC Snyman - Organiseerder Herdenkingsfees, Krugersdorp Konsentrasiekamp, 1982
58 Nasionale Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein, band OM 5890/89, Brief HJ van Jaarsveld -Organiseerder Herdenkingsfees, Krugersdorp Konsentrasiekamp, 1982
59 Nasionale Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein, band OM 5890/89, Brief JC Wolmarans - Organiseerder Herdenkingsfees, Krugersdorp Konsentrasiekamp, 1982
60 Die Krugersdorp konsentrasiekamp kerkhof is in 1944 op inisiatief van die destydse burgemeester, opgeknap. 'n Gedenksteen met die name van oorledenes is by die kerkhof opgerig. Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling,
inligtingslêer C20, Concentration Camp, sd
61 Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling, inligtingslêer C20, Concentration Camp, sd
62 Nasionale Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein, band OM 5890/89, Brief CSE Ackerman - Organiseerder Herdenkingsfees, Krugersdorp Konsentrasiekamp, 1982
63 TAB, Pretoria, SNA, band 59, verw 2097/01, Verslag De Lotbiniëre-Hoë Kommissaris, Des 1901; MGP, band 137, verw 6312A/01, Verslag De Lotbiniëre-Militêre hoofkantoor, Des 1901
64 Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling, inligtingslêer C20, koerantknipsel, Die Beeld, 3 Jul 1990. Kyk ook P Warwick, Black people in the South-African War, 1899-1902, p 156.
65 SB Spies het in sy doktorale proefskrif, wat in 1976 onder die titel Methods of barbarism? gepubliseer is, aandag aan die rol van gekleurdes in die oorlog gegee. Van Peter Warwick, 'n Britse historikus, het in 1983 Black
people in the South African War, verskyn. Inligting oor swart konsentrasiekampe verskyn ook in Die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 van Fransjohan Pretorius; T Cameron & SB Spies, Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika in woord en beeld en D. Oakes (Ed),
Readers Digest illustrated history of South Africa: the real story
66 Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling, inligtingslêer C20, koerantknipsel, Die Beeld, 3 Jul 1990
67 TAB, Pretoria, SNA, band 59, verw 2097/02, Verslag De Lotbiniëre-Hoëkommissaris, 30 Sept 1901
68 TAB, Pretoria, SNA, band 2097, verw 1901, Register, Des 1901; band 966, verw 1902, Register, Mrt. 1902; band 59, verw. 1902, Register, Jul 1902
69 TAB, Pretoria, SNA, band 59, verw 2097/02, Verslag De Lotbiniëre-Hoëkommissaris, 30 Sept 1901
70 TAB, Pretoria, MGP, band 137, verw 6312A/01, Brief De Lotbiniëre-Militêre hoofkantoor, Hoof van staf, 14 Des 1901
71 Die Krugersdorp Wildtuin is in die sestigerjare op die plaas Waterval aangelê. Die terrein van die swart konsentrasiekamp val waarskynlik binne die leeukamp. Hierdie aanname word gegrond op die oorblyfsels van groot
groentetuine wat in die leeukamp aangetref word. Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling inligtingslêer C20, Concentration Camp, sd
72 TAB, Pretoria, LTG, band 124, verw 115/31, Brief Sekretaris, Prokureur-generaal-Sekretaris, Luitenant-goewerneur, 24 Okt 1902
73 Museum, Krugersdorp, JW van der Westhuizen, Black concentration camps during the South African War 1899-1902 with reference to the Krugersdorp Black concentration camp, pp 30-32
74 TAB, Pretoria, GOV, band 373, verw PS53/01, Verskeie korrespondensie insake repatriasie van swart mense 1902
75 T Pakenham, Die Tweede Anglo-boereoorlog..., p 216
76 FC Symington, Die Konsentrasiekampskole in die Transvaal en Oranje-Vrystaat, pp 44-72
77 FC Symington, Die konsentrasiekampskole in die Transvaal en Oranje-Vrystaat (ongep M Ed-verhandeling, UP, 1943), pp 71,72. Kyk ook TAB, Pretoria, LTG, band 115, verw 115/31, Korrespondensie insake burgerkampe, 1902
78 SJ Esterhuizen, Die ekonomiese en maatskaplike..., p 70
79 Biblioteek, Krugersdorp, Aficanaversameling, Mayor's minute for the period ending 25 October 1904, p 30
80 JCG Kemp, Vir vryheid en vir reg, pp 387,388
81 JJN Cloete, Munisipale regering en administrasie in Suid-Afrika, p 2
82 Biblioteek, Krugersdorp, Africanaversameling, Mayor's minute for the period ending 25 October 1904, p 2 |
|
|
|
| kopiereg © 2004 Janetta du Plooy |
| |