Skip to main content

Susanna Smit (geb. Susanna Catharina Maritz), * 28.8.1799 + 27.7.1863 ‘n formidabele, onverskrokke Voortrekkervrou

Susanna Catharina Maritz is op 28 Augustus 1799 te Uitenhage in die Zuurveld distrik van Graaff-Reinet gebore as die derde kind en oudste dogter van C8 Salomon Maritz en bc4dc4 Maria Elizabeth Oosthuijsen. Susanna tree op 26 Junie 1813, twee maande voor haar veertiende verjaardag, in die huwelik met die 21-jarige sendeling Erasmus Smit wat op Bethelsdorp arbei. Volgens haar dagboek kom dit voor asof sy nie werklik tevrede is met haar huwelik nie. Dit laat ‘n gevoel van verontregting wat sy nooit heeltemaal afgeskud het nie. Haar ouers, veral haar moeder, het ‘n lewendige belangstelling in sendingwerk gehad en Susanna verkeer sedert haar jeug in ‘n godsdienstige sfeer. Haar ouers verhuis in 1811 na Graaff-Reinet, waar sy bly tot haar huwelik waarna haar man eers te Tooverberg (Colesberg) vir die Londense Sendinggenootskap sending werk onder die Boesmans doen waar Susanna die jong Boesmandogters leer brei en naaldwerk doen. By Tooverberg word hul twee oudste seuns gebore, nl. b1 Hermanus Samuel George Erasmus Smit, gebore in 1814, en b2 Salomon Erasmus Smit (1816 – 1837). Daarna werk Erasmus Smit ‘n tydlank met groot sukses vanaf 1822 in Stellenbosch onder nie-blankes as sendeling. Hulle twee seuns woon ‘n tyd lank die Engelse skool by, maar in 1826 vertrek hul na ‘n ander skool weens onredelike lyfstraf deur die skoolhoof. In 1822 verhuis die gesin na Olifantshoek (tans Alexandria) en vestig hul later op Graaff-Reinet. In 1836 toe haar broer, d2 Gerrit Maritz, die Kaapklonie verlaat, het die Smit gesin by die Maritztrek aangesluit met ‘n kakebeenwa wat Gert Maritz aan hul geleen het. Susanna en Erasmus Smit hou albei dagboeke, maar die eerste gedeelte van albei dagboeke is ongelukkig verlore. 

Susanna was ‘n aktiewe, moedige persoon, groot van gestalte, en die steun van haar sieklike eggenoot. Sy was ‘n miskende kultuurdraer wat vele beproewinge deurgemaak het, vanweë  die feit dat Erasmus nie ten volle georden was nie, en baie Trekkers hom dus nie as volwaardige predikant aanvaar het nie. Toe Piet Retief as goewerneur aangestel is, het hy op 21 Mei 1837 Erasmus as leraar bevestig. Kort daarna sluit die Smitgesin by die Retieftrek aan.

Op 13 Julie 1837 tref ‘n groot ramp die Smitgesin, toe hul seun Salomon kort na sy 21-ste verjaardag ernstig siek tuis kom en steeds swakker word en uiteindelik op 28 Julie sterf. Erasmus se dagboek toon aan hoe diep hierdie slag sy moeder tref, maar slegs ‘n maand later vermeld Smit hoe Susanna reeds weer haar plek vol staan en haar man bystaan in sy voorbereiding vir ‘n erediens.

 Susanna het ‘n sterker persoonlikheid as haar man en toe haar broer Gert sy wa terugvra, is dit sy wat hom oorreed om hul toe te laat om dit langer te hou, totdat Retief later reël dat die wa uit die regeringskas betaal word. Susanna word egter aangegryp deur die geleentheid tot selfontwikkeling deur geestelike kontak met Erasmus en sy groter opvoeding en sy kennis van Nederlands. Sy is lid van die kultuurgroep waarvan haar broer Gert die leier is. Sy het ‘n aantal boeke in haar wa. Sy het ‘n groot invloed op haar familielede soos blyk uit die dagboek van haar broerskind wat ‘n “spaansche roman” na haar bring om te lees, maar hoedat sy dit as ’n slegte boek beskou, waarna die kind troosteloos wegloop.

Vyf jaar na die Slag van Bloedrivier het die Britte die Voortrekkerrepubliek Natalia geannekseer en ‘n spesiale kommissaris, Henry Cloete, na Pietermaritzburg gestuur om die Trekkers daarmee te versoen dat hulle nou weer Britse onderdane sou word, maar hy kon nie daarin slaag nie. ‘n Verdere bewys haar kordaatheid is haar gevleuelde woorde aan die Britse Kommissaris, advokaat Henry Cloete, toe hy die Voortekkers wou ompraat om hul aan die Britse gesag in Natal te onderwerp, waarop die Voortrekker-vroue hom twee uur lank agter geslote deure in Pietermaritzburg van hul lyding en ontberinge vertel en Susanna aan die einde van ‘n vurige toespraak verklaar het dat hul liewer kaalvoet (barre voets) oor die Drakrensberge sou terugloop as om onder Britse gesag te leef. Dit was een van die mees uitstaande gebeure in die 19de eeu waartydens Afrikanervroue sterk op die voorgrond getree het in ‘n uiting van politieke protes.

Susanna se dagboek bestaan uit boekies dubbelgevoude foliopapier in die middel met gare aanmekaar geheg en dek die jare 1842 tot 1858. Anders as haar man, hou sy haar selde besig met die daaglikse doen en late van die Voortrek-kergemeenskap. Dit is blykbaar ‘n behoefte van haar hart om haar gemoed uit te stort; hierdie bedenkinge, in Neder-lands geskryf, behels die godsdienstige insigte van ‘n oorgevoelige vrou, wat behep is met die sondige neigings van haar siel, en klaarblyklik is sy beinvloed deur die skrywers van die Nadere Reformasie of Gereformeeerde Piëtisme, wat die gevoel voorop stel.

Susanna openbaar ‘n intens emosionele aard waarin sterk mistieke inslag te herken is waar sy haar verlange na haar hemelse Bruidegom bewoord, heeltemaal in die trant van die Middeleeuse mistieke digteresse soos Suster Bertken  en Anna Bijns, terwyl daar iets in opklink van ‘n “geestelijke bruiloft” van Hadewych van wie sy waarskynlik nooit gehoor het nie. Hierdie vernuftige vrou het ‘n vreemde geestelike dubbelslsagtigheid, soos blyk uit haar gedurige verwysing na haar bejaarde  eggenoot as “den ouden heer” of “den ouden leraar” wie se plek op merkwaardige wyse in haar gees deur haarhemelse Bruidegom ingeneem word. Veral in haar verse openbaar sy ‘n persoonlike aksent wat haar dagboek verhef bo die feitelike relaas van gebeurtenisse wat die geskrifte van ander Voortrekkers kenmerk.

Die Smitgesin het hul in 1839 in Pietermaritzburg gevestig waar hul oudste seun Hermanus in 1863 ‘n tolk vir die regering was. Heeltemaal verarm en sonder vriende, het Erasmus en Susanna hier gewoon tot hul dood kort na mekaar in 1863. Susanna is begrawe in die hoek van die NG Kerk begraafplaas.

Susanna was ‘n vrou met ‘n sterk persoonlikheid en ‘n leier van ‘n groep van vierhonderd vroue, wat in Augustus 1843 ’n onderhoud met die Britse Kommissaris Hendrik Cloete. By hierdie gekleentheid het sy die gevleuelde woorde geuiter: “Ons het lewe en eiendom opgeoffer om weg te kom van die gehate Engelse vlag, en al moet ons kaalvoet en sonder hoofbedekking  oor die Drakensberge loop, sal ons nie onder daardie vlag bly nie.”

Susanna het die trekkerkinders onderrig en was ‘n ywerige en enegieke skrywer van verskeie gedigte en lang prosa geskrifte van godsdienstige aard. ‘n Ongelukkige jeug en ‘n getroude lewe sonder kameraadskap het ‘n groot invloed op haar emosionele lewe gehad. Veel van haar geskrifte beskryf die verhouding tussen ouers en kinders en die opvoeding van kinders. Haar styl en taal toon ‘n merkwaardige piëtistiese invloed en kennis van die Nederlandse Bybel. Haar geskrifte bevat min geskiedkundige feite, maar gee insig in die gedagtewêreld en emosionele lewe van ‘n Voortrekkervrou.

Susanna se protes en verset teen die Britse anneksasie van Natalia was so aangrypend in die gemoed van latere Afrikaners dat ‘n standbeeld deur Alfonso Smuts om haar optrede te gedenk naby Kerkenberg op die Drakensberge opgerig en in 1977 onthul is. Dit is ongeveer 60 km vanaf Harrismth. Hierdie beeld is met spiraalvere bevestig sodat dit in die wind kan beweeg en so ‘n stapaksie verteenwoordig.

Ironies is die feit dat Susanna nooit Natal verlaat het nie omdat sy te arm was om weg te trek. Sy is in 1863 te Pietermaritzburg oorlede en daar begrawe.

Bronnelys:

  • De Kock, WJ: SABW 1
  • Gilliomee & Mbengu: Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika;
  • Grobler, J: Monumentale Erfenis
  • Heese, JA: GISA 5; GISA 11
  • Potgieter, DJ: SESA 11
  • Pretorius, FJ: Geskiedenis van Suid-Afrika
  • Rosenthal, E: Encyclopedia of Southern Africa
  • Scannell, JP: Afrikaanse Kernensiklopedie
  • Schoon, HF: The diary of Erasmus Smit
  • Smuts, F: Stellenbosch Drie Eeue; Venter, C: Die Groot Trek
  • Venter, EA: Ons Geskiedenisalbum

Persons, Great Trek

  • Hits: 3