Skip to main content

Cecil John Rhodes en die Vrugtebedryf in Groot Drakenstein

Cecil John Rhodes is op 26 Maart 1902 in sy eenvoudige kothuis te Muizenberg oorlede. 120 jaar gelede was hy ‘n indrukwekkende, maar omstrede, persoon in Suid-Afrika. Talle benamings wat wissel van lofprysing tot verdoeming is hom al toegevoeg. Vandag beskou sommige mense hom as ‘n persoon wat vooruitgang en verandering na Suid-Afrika gebring het, terwyl ander hom beskou as gierigaard wat ingestel was op persoonlike verryking en uitbreiding van die Britse Ryk in Afrika.


Rhodes het talle plase, veral in Groot Drakenstein, maar ook in Tulbagh, Franschhoek, en Wellinton, opgekoop om die sagtevrugtebedryf te vestig. Hy het die Kaliforniese vrugtedeskundige Harry EV Pickstone (1865 – 1939) aangestel om sy droom te verwesenlik. Pickstone het op 15 Maart 1892 in Kaapstad aangekom met net sy bagasie en 30 sjielings (R3) in sy sak. Met ‘n aanvanklike bedrag van £ 100 (R200) het Pickstone ‘n kwekery begin op die plaas Nooitgedacht. Sy suksesvolle poging het Rhodes oortuig om hom op die vrugtebedryf toe te lê. Teen 1893 is reeds 50 000 vrugtebome van die beste variëteite uit Kalifornië aangeplant. Pickstone het die vrugtebedryf op ‘n wetenskaplike grondslag gevestig.


Voor die einde van die negentigerjare het Rhodes met die oog op vrugteboerdery sowat dertig plase veral in die Groot Drakenstein vallei, aangekoop. Sy opdrag aan Pickstone was:”Koop die hele vallei, veral die plase met ou Kaaps-Hollandse opstalle”. So het die Rhodes Trust (later Rhodes Fruit Farms) tot stand gekom en in besit gekom van ou Hugenote plase soos Boschendal, Nooitgedacht, Rhone, Good Hope, Lekkerwyn, Weltevreden, Vredenburg, Bien Donne. Plase is goedkoop opgekoop as gevolg van die Phylloxera besmetting wat wingerde tot niet gemaak het. Rhodes as Kaapse Premier wou die kwynende wingerdbedryf wat op die punt van uitsterwing was, red deur virus-vrye wingerdwortelstokke uit Kalifornië in te voer om die Phylloxera-geteisterde Kaapse wingerde te vervang.


Rhodes verdien erkenning vir sy waardering en bewaring van Africana en behoud van die Kaaps-Hollandse boustyl. Hy het talle ou opstalle in die Kaaps-Hollandse boustyl gered van vernietiging deur ou Hugenote plase op te koop en die opstalle te laat restoureer of selfs te herbou. Net Vredenburg se opstal kon weens swak toestand nie gered word nie. Die huidige woonbuurt Die Boord van Stellenbosch, was die eerstydse plaas Vredenburg. Die ry huisies langs die Strandpad buite Stellenbosch, was vroeëre arbeiderswonings van hierdie plaas en was toe bekend as die Rhodes Cottages.


Weltevreden se postal is later deur ‘n brand vernietig en Bien Donne en Lekkerwyn is later aan die Unieregering oorgedra as novorsingsplase. Rhodes het bygedra tot die ontwaking van openbare belangstelling in die argitekto-niese boustyl en die ou huise self, maar ook van meubels uit hierdie Kaaps-Hollandse tydperk. Dit juis op ‘n stadium dat die belangstelling in die Kaaps-Hollandse boustyl aan die Kaap en in Europa op ‘n laagtepunt was. Talle ou opstalle is gesloop weens die stygende koste van voortdurende onderhoud.
Rhodes wou ‘n model nedersetting tot stand bring waar werkers goed behandel en van goeie huisvesting voorsien word. Sy vriend Herbert Baker het die werkersdorpie Languedoc en werkershuise langs die huidige R310 ontwerp. Huise was van vereenvoudige Kaaps-Hollandse styl weerskante van ‘n boomryke laan. Elke huis het 1 morg grond, 2 perde, 2 koeie en ‘n vark gehad. Teëls en stene was afkomstig van ‘n steenoond wat Rhodes laat oprig het. Die projek het destyds £27 000 (R54 000) gekos, ingesluit was ‘n winkel, Anglikaanse Kerk (St Giles) en skool. Om soberheid en goeie Christelike leefwyse te bevorder was die kerk die middelpunt van die gemeenskap. ‘n Stel reels is opgestel om streng sosiale gedrag te verseker en alkohol was verbode. Pryse is toegeken aan die beste tuine en verbeterde lewensomstandighede.


Hoe beoordeel ons CJ Rhodes ? Dit is nie die plek vir politieke oordeel nie. Die enigste woorde op sy grafsteen is: Here lie the remains of Cecil John Rhodes. Dit is sy gedenksteen; dit en sy naam, wat op 48 jarige ouderdom, geskryf staan oor die kaart van Afrika. So het die aartsimpeialis CJ Rhodes vir hom ‘n blywende monument in RSA nagelaat. Ons eer hom vir die behoud van dieskat van ons land se ou Kaaps-Hollandse opstalle.

Bronnelys:

  • Albertyn, CF: Ensiklopedie van die Wêreld, Vol 8
  • Athiros, G & L: The best of the Cape Odyssey
  • De Bosdari, C: Cape Dutch Houses and Farms
  • Krüger, DW: SABW, Vol 3
  • Potgieter, DJ: SESA, Vol 6; Vol 8
  • Smuts, F: Stellenbosch Drie Eeue

Persons, Farming

  • Hits: 3