Skip to main content

Die huwelik wat 'n grensoorlog ontketen het

In 1877 was die problematiese Kaapse Oosgrens ’n streek wat in spanning gewag het op nog ‘n grensoorlog om uit te breek. Al wat nodig was, was ‘n vonkie om die grensgebied in vlamme te hul. Agter die smeulende onrus was die Kaapse regering se anneksasie van grond wat aan die Gcalekastam behoort het, en wat toe aan hul tradisionele vyande, die Mfengu gegee is.

Die vonkie wat aanleiding tot die oorlog gegee het, was die huwelik van ‘n Mfengu hoofman, Mginga. Die huwelik was ‘n ope geleentheid  wat enigiemand kon bywoon, selfs deur hul vyande die Gcalekas.  Gedurende die viering het die ou vyandskap weer ontbrand na ‘n argument waartydens ‘n Mfengu ‘n Gcaleka hoofman geklap het. Die Gcalekas het die geleentheid verlaat, maar die volgende dag was hul in gevegsgewaad terug. ‘n Geveg het uitgebreek en dit het spoedig langs die hele grens versprei. Tegnieswas die Mfengu die Britte se bondgenote end us geregtig op beskerming deur die Goewerneur, Sir Bartle Frere, wat juis op besoek aan die grens was. Hy gee opdrag aan die Sarhili, opperhoof van dieGcalekas om die geveg te staak en al die beeste wat gebuit is, aan die Mfengu terug te besorg. Sarhili ignoreer die opdrag omdat sy vader, Hintsa, gedood isterwyl hy in die sorg van die vorige goewerneur, sir Harry Smith, was. Sarhili het dus geen vertroue in die Britse gesag nie, en weier om ‘n vergadering met goewer-neur Fere by te woon.

Groot gebiede wat tevore onder Gcalekabeheer was, is aan die Mfengu oorgedra. Daarom het Sarhili gewaag om tot oorlog met die Britte toe te tree, met die woorde: “Die land is te klein. Ek sterf eerder as om in ‘n hoekie vasgekeer te word.” Sonder om die omvang van die vyandelikhede te besef, het Frere agter die smeulende onrus ‘n afdeling polisie na die Mfengu gestuur om bondgenote te werf. Die polisie en hulMfengu bondgenote is tydens die slag van  Gwadana verslaan.

Later, versterk deur die polisie, het hul Gcalekaland binnegeval wat hul verlate gevind het. Die mense en hul vee het na die ooste uitgewyk. Sarhili se stat is toe deur ‘n brand vernietig, die Gcalekas agtervolg en tot so ver as Mbashe-rivier verdryf. Toe dit duidelik word dat die gevaar van oorlog verby was, is die verlate grond aan 51 aansoekers uitgereik.

Die Gcaleka het egter nie weggevlug nie, maar bloot hul families en vee na veiligheid geneem. Die Gcaleka vegters het nou teruggekeer en hul is spoedig deur Nqgika en Sandile ondersteun. Tekort aan kos en ammunisie het hul laat besluit om die militêre kamp by Kentaneberg aan te val, alhoewel dit deur sowat 1000 Britse troepe verdedig is. In ‘n regstreekse aanval is hul toeglaat om tot digby die kamp te kom, waar die Gcalekas verslaan is deur kanon- en geweervuur. Die Nqgikas het in sig van die verdedigers gebly, maar buite die skootsbereik van hul wapens in die hoop om die verdedigers na buite te lok. Dié plan was suksesvol en na’n hewige geveg het die Gcalekas teruggeval toe ‘n groep bykomende polisie hul van agter bedreig het.

Nadie slag van Kentane was die Gcalekas se mag verbreek en het die Nqgikas mag onder Sandile hul toevlug tot hul ou tuiste in die Piriebos van die Amatoleberge geneem waar Sandile dodelik verwond is. Hul het die Piriebos ingeneem, maar koue en hongersnood, eerder as wapengeweld,  het hul uitgedryf. Bang om oor te gee, het honderde Nqgika krygers in die bos geskuil vanwaar hul uiteindelik uitgedryf en gedood is.

In die Kaapse Parlement het Saul Solomon, die lid vir Kaapstad, geëis dat die goewerneur hul inlig oor hoe lank die “slagting” nog sal voortgaan. Twee weke later, op 2 Julie 1878, is amnestie afgekondig. Nagenoeg 4000 Xhosas is dood in die gevegte, en net 471 is gevange geneem. Gevangeneming was dus nie ‘n prioriteit nie. 45 000 Xhosa-beeste is gebuit en baie vroue en kinders is oorsee vanaf Oos-Londen as bannelinge na ‘n plek naby Kaapstad gestuur.

Die nuwe eerste minister, Gordon Sprigg, was vasbeslote om die Xhosas beslissend te verslaan, om te toon dat die blankes “die meesters van die land is.” Hy besluit dus dat alle Afrikane ontwapen moes word, self sook die Mfengu bondgenote. Geen swart persoon sou toegelaat word om ‘n vuurwapen te besit nie.

Bronnelys:

  • Bergh, JS & AP: Stamme en Ryke
  • Hummel, C: The Frontier War Journal of Major John Crealock, 1878
  • Metrowich, FC: Frontier Flames; McWhirter, A: Illustrated Encyclopedia of Essential Knowledge
  • Milton, J: The Edges of War; Saunders, C: Illustrated History of South Africa
  • Van Schoor, Oberholster, Coetsee, Pienaar: Senior Geskiedenis

Persons

  • Hits: 3