Skip to main content

Die Kaapse Maleiers en die Bo-Kaap Maleierbuurt

Die huidige sepie Suidooster het die Kaaps-Maleier bevolkingsgroep tot binne in ons sitkamers gebring. Vir die deursnee Suid-Afrikaner was dit die eerste kennismaking met hierdie unieke bevolkingsgroep van Suid-Afrika. Hulle is ‘n nie-blanke bevolkingsgroep wat behoort tot die Kaapse Kleurlinggroep, maar anders as die gewone Kleurlinge, is die Maleiers van Oosterse herkoms en byna sonder uitsondering lede van Islam, die Mohammedaanse godsdiens.

Hierdie bevolkingsgroep het ontstaan deur die samevoeging van verskillende raselemente, veral Javane, Arabiere, Indiërs, Sri Lankane, Chinese en Europeane.  Die eerste groep ‘suiwer’ Maleiers het gedurende die 17de en 18de eeue na die Kaap gekom, die eerste groep in 1667, latere groepe in 1727, 1737 en 1749. Belangrike leiers was Sjeg Joesoef (1626 – 1699), wat deur die VOC as banneling na die Kaap gestuur is en in 1694 die Islamgeloof hier gevestig het, dr. Abdullah Abdurahman (1870 – 1940) en Abdol Burns (1834 – 1898) wat onderskeidelik as medikus en gesiene sakeman grootliks verantwoordelik was vir die politieke beïvloeding van hul volksgenote.

Die Maleiers is hoofsaaklik Mohammedane of Moslems wat hul streng aan die geloofsbepalings hou. In die Maleierbuurt is nege moskees, waarvan die eerste reeds in 1850 gebou is. Op Vrydae lewer die imam (priester) daar ‘n preek. Van die Moslem word verwag om, indien enigsins moontlik, ‘n pelgrimstog na Mekka te onderneem. Diegene wat reeds daar was, word hadji’s genoem en dra kenmerkende kleredrag na die moskee. Hul fes mag ook ‘n tossel aan hê.

Die belangrike vastyd (Ramadan) begin in die negende maand, die tyd toe die Koran, hul heilige boek, ontstaan het. Vir Moslems begin elke maand met die verskyning van die nuwe maan. Die vastyd begin aan die einde van die maand sodra die nuwe maan waargeneem word. Tydens die vastyd mag geen mens of dier voedsel eet of water drink nie. Die vastyd eindig eers wanneer die nuwe maan van die volgende maand waargeneem word.

Hierop volg Lebaran, ‘n kleurryke fees waarby daar onder andere geskenke aan armes gegee word. ‘n Belangrike godsdienstige plegtigheid is Tamat, waartydens jong seuns ‘n moeilike godsdienstige toets aflê. Hul moet groot dele van die Koran in Arabies voordra en moeilike vrae beantwoord.

Versprei deur die Kaapse Skiereiland is verskeie kramatte (grafte van belangrike Moslemleiers).  Benewens die kramat van Sjeg Joesoef by Makassar is daar ander op Vlaeberg (Khari Abdurahman, Tuan Said, Tian Guru, Tian Nurman) Tuan is ‘n eretitel van ‘n belangrike persoon. Moslems besoek hierdie kramatte tydens belangrike gebeurtenisse om daar te bid. ‘n Sirkel van ses kramatte in die skiereiland vorm ‘n heilige sirkel van beskerming.

Die Khalifa, ‘n tipiese plegtigheid van die Kaapse Maleiers, was oorspronklik ‘n godsdienstige seremonie ter ere van Abdoel Kader Beker, ‘n dissipel van Mohammed, maar dit het tot ‘n vaardige swaardspel ontaard.

Die Maleiers se huistaal is hoofsaaklik Afrikaans, hoewel hulle ook Engels praat. Die oorspronklike Maleise taal het uitgesterf en van die jonger geslag, leer Arabies om die Koran te kan lees. Sommige Maleis-Portugese woorde het ingang in Afrikaans gevind (sosatie, bredie, bobotie). Hul het veral op ons koskultuur ‘n groot invloed uitgeoefen.

Maleise kinders bestudeer die Koran wat in Arabies geskryf is en die Maleise taal word in sommige skole in die Skiereiland aangebied. Priesters gaan gewoonlik na Mekka vir opleiding.

Maleise kleredrag is tans gewoonlik Europees, behalwe dat vroue helderkleurige klere dra en ‘n swart sluier (milaya) wat hul gesig bedek. Die priester dra ’n woelsel, ‘n doek wat om sy fes gedrapeer is.

Die Maleiers is hoofsaaklik geskoolde vakmanne, messelaars, skrynwerkers, meubelmakers, bouers, loodgieters,  kleremakers, kuipers, skoenmakers en vissers. Talle het hul eie sake-ondernemings en hul is ook onderwysers.

Die kleurvolle en sklideragtige Bo-Kaap of Maleierbuurt is teen die steilhang van Seinheuwel geleë. Vroeër  het dit ‘n groter gebied beslaan, maar tans is die vernaamste deel beperk tot die gebied tussen Rose en Chiappinistrate, van Strandstraat to bokant Waalstraat in die rigting van Leeukop. Dit word deur ‘n aantal dwarsstrate en lane deurkruis. Dit is die oudste deel van Kaapstad en een van net enkele dele wat iets van sy oorspronklike karakter behou het, ten spyte van die toenemende eise van sake-ondernemings op die beperkte ruimte van die stad. Die buurt het ontstaan toe Kaapstad van die strand na Tafelberg uitgebrei het. Die skielike bevolkingstoename gedurende die derde kwart van die 18de eeu het ‘n oos-wes uitbreiding veroorsaak. Tydens die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog teen Brittanje, het die Britte in 1781 ‘n vloot na die Kaap gestuur en die Franse het in reaksie het toe ook ‘n vloot na die Kaap gestuur.  Die Here XVII het ‘n verdedigingsgarnisoen van 2000 man na die Kaap gestuur. So het die bevolking skielik toegeneem en ‘n tydperk van ongekende voorspoed ingelui. Die voorspoed het ook ‘n instroming van bugers meegebring, veral vakmanne. Toe het die stad weswaarts oor Buitengrachtstraat na die hange van Seinheuwel uitge-brei. Die eerste huise in hierdie omgewing is waarskynlik in 1790 gebou, maar van 1795 en 1820 het meer persone van beskeie inkomste, veral vakmanne, hul intrek hier geneem.

In 1826 is nog vier blokke suid van Waalstraat en wes van Buitengrachtstraat uitgelê. Daar was toe nog twee groot marktuine bo-aan Waal- en Langmarkstraat. Teen 1885 het albei tuine egter al verdwyn om plek te maak vir huise. Toe het die Maleierbuurt vorm aangeneem. Waarom het die Maleiers hierheen verhuis? Na 1830 en die vrystelling van die slawe het hulle hierheen getrek. Teen die middel van die negentiende eeu was dit reeds bekend as die Slamse Buurt, dus die aanhangers van die Islamgeloof.

Die Maleierbuurt is nie net van historiese belang as oorblyfsel van ‘n woongebied van die ou Kaapstad nie, maar ook as bakermat van die Kaapse Maleiers.  Vanaf die keisteenstraatjies teen hange van Seinheuwel is daar ‘n goeie uitsig op die stad en sy omstreke. Die argitektoniese ontwerp van die huise is ook van belang omdat dit die stadsargitek-tuur van die 18de eeu uitbeeld. Die Bo-Kaap museum beeld die kultuurerfenis van die Kaapse Moslems en die leefwyse van ‘n Maleiergesin uit die 19de eeu uit. Die gebou van die museum is in 1763 deur Jan de Waal opgerig, dus is dit een van die oudste oorblywende geboue in Kaapstad. Dit was die eerste Arabiese skool in SA, begin deur Abu Bakar Effendi. Die binneplein huisves ‘n versameling van ou koetse, waens en karre. Nadat ‘n blok Gregoriaanse huise gerestoureer is, het begrip vir behoud van die woonbuurt versterk. Die gebied is in 1966 tot Nasionale gedenk-waardigheid geproklameer. Dit is die grootste versameling geboue in Suid-Afrika wat dateer uit die tydperk van voor 1840.

Bronnelys:

  • Bradlow & Cairns: The Early Cape Muslims
  • Bulpin, TV: Illustrated Guide to South Africa
  • Erasmus, BPE: OP pad in Suid-Afrika; Steyn, A: Off the Beaten Track
  • Maxwell, L; Toergids vir Suid-Afrika
  • Mountain, A: An Unsung Heritage
  • Oberholster, JJ: Historical Monuments of South Africa
  • Potgieter, DJ: SESA 7; Xplore, official SATOUR guide to South Africa

Towns, Slavery

  • Hits: 3