Die ontsyfering van wig- of spykerskrif het antieke literê werke bekendgestel
Die vroegste geskrewe literatuur dateer uit ongeveer 2600 vC. Die vroegste bekende literêre skrywer wie se naam bekend is, is Enheduanna, ‘n Sumeriese priesteres en openbare figuur uit die 24ste eeu vC. Hierdie geskiedenis spruit uit Sumerië, die land tussen die Tigris en Eufraatriviere, waar die oudste bepaalbare kultuur van die wêreld ontwikkel het, ook bekend as die bakermat van ons beskawing, waar die eerste groot stede, bv. UR, en die eerste skrif, wigskrif, ontwikkel het. Die biblioteek van koning Assurbanipal in Ninevé het duisende kleitablette bevat.
Die Mediese koning Darius I, seun van Ahasveros, het ‘n reuse geskiedkundige monumentale inskripsie en uitbeel-ding van sy oorwinning oor sy vyande laat uitbeitel op die rots van Behistoen aan die hoofpad tussen Susa en
Persepolis. Die monument is byna 5 meter hoog en 16 meter breed en bevat A, ‘n uitbeelding van die oorwinning , en drie beskrywings in die belangrikste tale van die oostelike streke: B is ‘n beskrywing in Persiese wigskrif, C is ‘n vertaling in Babiloniese wigskrif en D ‘n vertaling in wigskrif in die dialek van Susa.
Sir Henry Creswicke Rawlinson (1810 – 1895) het hierdie drie wigskrifinskrywings gekopieer met behulp waarvan hy in 1836/37 die tale kon ontsyfer. Dit het moderne geskiedkundiges in staat gestel om die verlore tale en geskiedenis van Babilonië en Assirië te rekonstrueer. Dit was nou ook moontlik om die digkuns en skryfwerk van die oudste bekende skrywer, Enheduanna, die dogter van Sargon en ‘n digteres, skrywer, priesteres, politikus, te ontsyfer.
Die wêreld se eerste bekende skrywer word wyd beskou as Enheduanna, ‘n vrou wat in die 24ste eeu voor Christus in antieke Mesopotamië (ongeveer 2285 – 2250 VC) geleef het. Enheduanna is ‘n merkwaardige figuur: ‘n antieke “drievoudige bedreiging”, sy was ‘n prinses en ‘n priesteres asook ‘n skrywer en digter.
Die derde millennium VC was ‘n tyd van omwenteling in Mesopotamië. Na die verowering van Sargon die Grote het wêreld se eerste groot koninkryk tot stand gekom deur vereniging van Noord- en Suid-Mesopotamië. Die stad Akkad het een van die grootste in die wêreld geword. In hierdie buitengewone geskiedkundige omgewing vind mens die boeiende karakter van Enheduanna, Sargon se dogter. Sy het as hoëpriesteres van die maangod Nanna-Suen in sy tempel in Ur (in hedendaagse Suid-Irak) gewerk. Die hemelse aard van haar beroep word weerspieël in haar naam wat “Sierraad van die Hemel” beteken.
Enheduanna het verskeie literatuurwerke gelewer, wat twee lofsange aan die Mesopotamiese liefdesgodin Inanna (Semitiese Ishtar) insluit. Sy het die mite van Inanna en Ebih geskryf, en ook ‘n versameling van 42 tempellofsange. Skryftradisie in die antieke wereld word dikwels beskou as die terrein van manlike gesag, maar Enheduanna se werke vorm ‘n belangrike deel van Mesopotamië se ryk erfenis.
Enhuduanna se benoeming as digteres is belangrik gegewe die anonimiteit wat die werke van die vroegste skrywers omring. Tog is sy feitlik totaal onbekend in die moderne wêreld en word haar prestasies heeltemaal misgekyk. Die inhoud van haar geskrewe werke is diep persoonlik en bevat talle biografiese kenmerke. Enheduanna se siklus van tempelsange sluit met ‘n met ‘n verklaring van die werk se oorspronklikheid, die skrywerskap en intellektuele eienaarskap.
“Die samesteller van hierdie tablette was En-hedu-ana. My koning, so-iets het niemand nog tevore geskep nie.”
Terwyl sy duidelik skrywerskap en eienaarskap van haar werk uitspreek, lewer Enheduanna ook kommentaar oor die struikelblokke van die kreatiewe proses – oënskynlik was skrywersblokkasie selfs in antieke Mesopotamië teen-woordig.
In haar lofsange skryf Enheduanna oor die uitdaging van samevatting van goddelike wonders deur die geskrewe woord. Sy beskrywe die lang nagtelike ure wat sy aan haar komposisies bestee het, wat dan gedurende die dag uitgevoer moes word. Die vrug van haar werk word toegewy aan die godin van die liefde. Enheduanna se gedigte het ‘n reflektiewe gehalte wat die gehalte van haar goddelike muse beklemtoon, terwyl dit ook haar artistieke bekwaam-heid, wat vereis word vir geskrewe werke, onderstreep. Haar geskrewe lofsange aan hemelse gode word in die moderne sterrekunde erken. Haar beskrywing van sterre-afmetings en -bewegings is beskryf as moontlike vroeë wetenskaplike waarnemings. ’n Krater op Mercurius is na haar vernoem.
Enheduanna se werke is in antieke wigskrif op kleitablette geskryf, maar het net behoue gebly in latere kopieë van so 1800 vC, uit die Ou Babiloniese periode en later. Die gebrek aan vroeëre bronne het by sommige twyfel laat ontstaan oor identifikasie van Enheduanna as skrywer van mites en lofsange en haar hoë status as ‘n godsdienstige beampte. Die historiese rekord identifiseer Enheduanna baie duidelik as die samesteller van antieke literêre werke, en dit is ‘n belangrike aspek van die tradisies wat haar omring.
Behalwe digkuns is ander bronne oor Enheduanna se lewe deur argeoloë ontdek. Dit sluit silindriese seëls in wat aan haar bediendes behoort het en ‘n albaste reliëf waarop haar toewyding ingekerf is. Die Skyf van Enheduanna is in 1927 deur die Britse argaeoloog Sir Charles Leonard Woolley en sy span opgrawers ontdek.
Die Skyf is verwerp en oënskynlik tydens antieke tye geskend, maar die stukke is tydens opgrawing herwin en suksesvol herstel en beeld die toneel wat die skrywer en haar drie manlike assistente uit, terwyl sy ‘n drankoffer uit ‘n beker skink. Enheduanna is in die middel van die voorstelling met haar blik gefokus op die godsdienstige offer, en haar hand opgehef in ‘n gebaar van vroomheid. Die beeld op die skyf beklemtoon die godsdienstige en sosiale status van die priesteres wat die hoofbedekking en kledingstuk met valletjies dra.
Enheduanna se kuns bevat, wat beskou word as elemente van outobiografiese besonderhede, soos beskrywing van haar stryd teen die troonrower, Lugalanne. In haar samestelling van die Juiglied van Inanna, beskryf Enheduanna Lugalanne se pogings om haar uit haar rol as priesteres in die tempel te verwyder.
Enheduanna se pleidooie aan die maangod was oënskynlik met stilswye beantwoord. Daarom het sy haar na Inanna gewend, wat geloof is vir haar herstel in haar posisie. Die uitdaging van Enheduanna se gesag en haar lofuiting aan haar goddelike helper, spreek uit haar ander werk, soos die mite bekend as Inanna en Ebih.
In hierdie vertelling, kom die godin Inanna in konflik met die trotse berg Ebih. Die berg beledig die godin deur hoog te staan en te weier om laag voor haar te buig. Inanna soek hulp van haar vader, die godheid Anu. Om verstaanbare redes raai hy haar, teen haar wense, aan om nie oorlog te verklaar teen die vreeslike bergreeks nie.
Inanna, in tipiese dapper vorm, ignoreer sy raad en vernietig die berg, waarna sy die god Enlil prys vir sy bystand. Die mite bevat interessante parallele met die konflik wat in Enheduanna se digkuns beskryf word. In die persoon van Enheduanna, sien ons ‘n kragtige figuur van groot kreatiwiteit, wie se passievolle lofprysing van die godin van liefde steeds deur die tyd eggo, 4000 jaar nadat dit die eerste keer op ‘n kleitablet gekerf is.
Nota: Vertalings van die Tempel Lofsange uit Black, J.A., Cunningham, G., Fluckiger-Hawker, E, Robson, E., and Zólyomi, G., The Electronic Text Corpus of Sumerian Literature, Oxford 1998.
Bronnelys:
- Albertyn, CF: Ensiklopedie van die Wêreld; Boëseken, AJ: Geskiedenis-atlas vir Suid-Afrika
- Breasted, JH, Jones, WH: A Brief History of Ancient Times
- Archeology Magazine, November/December 2022
- Gispen, Ooster-hof, Ridderbos, Van Unnik, Visser: Bybelse Ensiklopedie
- Mc Whirter, A: Illustrated Encyclopedia of Essential Knowledge; Newman, JB: Beginners Ancient History
- Wegener, GS: In die Begin was die Woord
- Hits: 3