Lydia Williams, lig en baken van hoop vir vrygestelde slawe
Lydia Williams is as dogter van slawe-ouers in 1820 op die landgoed Zonnebloem van slawehandelaar HT Colebrook gebore. Volgens die slaweregister was haar moeder Saria en haar vader moontlik ‘n Mosambieker, aangesien Colebrook destyds Afrika-slawe verkoop het. Lydia het ‘n slawelewe vrygespring omdat slawerny afgeskaf is toe sy ‘n 14-jarige dogter was en ‘n jong vrou van 18 jaar was toe die inboekstelsel afgeskaf is.
Die vormingsjare van haar lewe is deur die kragte van knegskap oorheers sodat sy nooit werklik aan die diep inge-etste letsels daarvan op haar psige kon ontsnap nie. Haar liggaam het die letsels gedra van sambokslae.
Lydia se bydrae het na die afskaffing van slawerny gekom. In die ruwe see van vinnige sosiale verandering, het sy ‘n klein plekkie van stabiliteit in die hoekie van Kaapstad se Distrik Ses geskep. Toe afskaffing in 1838 kom, het omstandighede vir talle slawe bloot van fisiese knegskap na ekonomiese diensbaarheid verander. Sommige het ‘n skamele bestaan aan die rand van landgoedere soos Protea (vandag Bishopscourt) en Zonnebloem gevoer waar Lydia bly woon het.
Zonnebloem het in 1859 die terrein geword van die Anglikaanse Kollege en dien vandag as die hoofkwartier van die Anglikaanse biskoplike gebied van Kaapstad. In 1867 het George Glover, die waarnemende opsiener van Zonne-bloem, ‘n kothuisie in een hoek van die eiendom opgerig. Lydia het die huurder van hierdie eenvertrek huisie geword, van waar sy gedurende die dag ‘n skooltjie bedryf het, en saans daar bidure gehou het.
Vanuit hierdie nederige begin het die St Philip’s Sending onder die leiding van die “Cowley Broers” ontwikkel, ‘n verwysing na die Anglikaanse monikke-orde, met die volle naam van Society of St John the Evangelical, wat te Cowley, Oxford, Engeland, gesetel was.
Hul eerste diens is in Lydia se huisie gehou en sy het ‘n sterk teenwoordigheid in die gemeente gehandhaaf. Sy het jongmense geleer om Christelike gesange te sing, en sy het die Monnike vergesel op huisbesoek. Sy het ook byeen-komste in haar huis gereël waarsy kragtig leiding geneem het met vermaning, getuienis en gebed. Bykomend tot haar werk as onderwyseres en lekeprediker, het Lydia ook ‘n belangrike rol gespeel on voormalige slawe te help om hul te bevry van hul verlede en die hardnekkige onsigbare bande van ontmagtiging. Sy het voortgegaan om wat sy genoem het “die Fees van Bevryding van Slawerny” te vier, bekend as Lydia se Dag op die kalender van St Philip se Sending.
Jaarliks, op die eerste dag van Desember, het sy alle voormalige slawe en vriende in die gemeente na haar huis genooi om hul Vryheid van Slawerny te vier. Dit was ‘n dag van groot vreugde waar Lydia, uitgedos in haar beste klere, die dag met geesdrif gevier het. Sy het koeke en verversings gebakvir die geleentheid gebak wat aan haar die liefdesnaam “Ou Tamelytjie” besorg het. Haar huis/skool is tot almal se genot versier.
Die Cowley vaders berig dat tydens die namiddag tee wat deur die gesamentlike bydraes van die gaste verskaf is, Lydia haar verhaal van lyding tydens slawerny vertel het. Michael Weeder, huidige rektor van St Philips Kerk, beklemtoon ‘n belangrike punt: Lydia se fees en haar vertelling bevat al die elemente van “anamnesis”, ‘n Griekse woord wat herinnering beteken. Met hierdie fees was sy in staat om deur herinnering en al sy fasette heling te bring. Almal wat jaar na jaar gekom het, klein en groot, is geherintegreer in die geskiedenis waarmee hul geassosieer word.
Lydia se aandrang op die viering van vrystelling was beslis daarop gemik om die voormalige slawe en hul afstammelinge te laat besef dat dat die fisiese kettings van slawerny verbreek is, maar dat hul deur onsigbare bande van lae selfbeeld en gevolglike ontmagtiging gebonde sal bly totdat hul die verlede aanvaar en dit konstruktief verwerk. Dit kan net gebeur wanneer die slawe-afstammelinge die stigma en skaamte daarvan wat so baie nog voel, uitwis. Lydia se dag het moraal versterk en haar gaste daaraan herinner dat hul ‘n reg het om trotse burgers van die land van hul geboorte of gedwonge voorouerlike aanneming te wees.
Toe die Cowley vaders op 31 Desember 1899 uit sendingwerk in Kaapstad onttrek het, om te konsentreer op sendingwerk onder plattelandse Afrikane, is hul nuut-opgerigte kerk van St Philip in Chapelstraat, Woodstock, Kaapstad, ingewy om hul werk in daardie voorstad voort te sit. Die kerklike dokument vir die toewyding van die kerk, onderteken deur “die Priester in beheer, ander leke gemeentelede en Lydia, die oudste gemeentelid van die sending.”
Op Donderdag 16 Junnie 1910 het Lydia Williams in die oudedom van 90 jaar gesterf en is in die Maitland begraafplaas ter ruste gelê. In 1929 is die Lydia Williams skool op die terrein van haar huisie op die perseel van die St Philips kerk gebou, maar dit is ongelukkig tydens die vernietiging van Distrik Ses deur stootskrapers platgestoot.
Al wat oor is, is die stille fluisteringe en verre eggos van die verlede. Tog was Lydia Williams op haar dag ‘n ikoon, maar tyd en gebeure het ongelukkig haar gedagtenis ondermyn. Ons onstuimige tye kan moontlik gekalmeer word indien ons tot stilstand kom en nadink oor die eenvoudige maar oneindig diepsinnige wysheid van ‘n pragmatiese vrou wat uit die as van slawerny opgestaan het om ‘n lig en menslikheid vir haar ontheemde gemeenskap te word. Sy het erken dat euwels uit die verlede kan nie net onder die mat van vergetelheid ingevee word nie, omdat die heugenis van pyn en verlies nie met die verloop van tyd verdwyn nie. Sy het besef dat tensy hierdie pyn behandel word, dit ‘n blywende las sal word wat die siel van die beproefdes sal benadeel.
Haar les vir ons is dat slawerny en sy gevolge ontbloot moet word en op opbouende wyse hanteer moet word om die siel van die mense te heel en te herstel. Op hierdie manier kan die gepaardgaande las van voorouerlike skaamte en oorge-erfde pyn wat van geslag tot geslag in verskillende vorme oorgedra is, verlig word.
Dit is jammer dat so min algemeen bekend is van Lydia Williams en wat sy vir haar gemeenskap beteken het. Soos Michael Weeder sê: “Lydia Williams is ‘n storie wat vertel moet word.” Tydens die herdenkingsfeesop 17 Oktober 1999, het Biskop Christopher Gregorowski een van die gemeentevertrekke tot die Lydia Williams Herdenkingskamer gedoop, die enigste gedenkteken vir hierdie merkwaardige vrou.
Bronnelys:
- Mountain, A: Unsung Heritage; Oberholster, JJ: Historical Monuments of South Africa
- Hits: 3