Skip to main content

’n Kosbare viool wat 78 jaar gelede deur die Nazi’s gesteel is, is nou moontlik gevind

Van kosbare, duur musikale instrumente gepraat, is niks kosbaarder nie as die ongetwyfeld onverbeterlike unieke   viole wat Antonio Stradivari (1644 – 18.12.1737) in die laat 17de en vroeë 18de in Cremona, Italië, eeue vervaardig het. Hy word beskou as die grootste vioolmaker van alle tye. Die roem, hoofsaaklik van sy viole, spruit nie net uit die uitstekende klank en uitsonderlike harmonie wat nie deur die loop van eeue  verswak het nie, maar ook aan die groot waarde wat aan hierdie instrumente geheg word, want uit die sowat 1000, is net 540 nog funksioneel of waarvan die ligging bekend is.   Hiervan is slegs 26 bekend onder ‘n dubbele naam, gewoonlik van die persone wat dit besit het, of die prominente musici wat musiek daarop uitgevoer het. Hulle waarde is, vanselfsprekend, selfs hoër, in ag genome dat die rekordprys op veiling van so ‘n instrument reeds $16 miljoen dollar bereik het.

Een van hierdie uiters skaars viole, die Stradivari Lauterbach, vernoem na die eertydse besitter die 19de-eeuse Duitse virtuoos Johann Christoph Lauterbach, het tydens die Tweede  Wêreldoorlog uit die verwoeste  Pole verdwyn, en tot onlangs is dit as verlore beskou en het selfs op die lys van vir altyd verlore voorwerpe verskyn. Enkele maande gelede het ‘n naamlose persoon in Parys ’n agentskap wat spesialiseer in uiters skaars voorwerpe wat tydens die oorlog verlore geraak het, genader en daarop aanspraak gemaak dat hy die oorspronklike Lauterbach viool wat in 1791 vervaardig is, besit.

Die agentskap, gelei deur prokureur Corinne Hershkovitch, het ‘n ondersoek begin wat klink na ’n rolprentdraaiboek, en in tyd teruggestap tot die tydperk toe die Nazi’s Europa oorheers het en oënskynlik onstuitbaar was. Die laaste bekende eienaar van die "Lauterbcach" was die Poolse nyweraar Henryk Grohman, in 1901, maar toe hy kort voor die uitbreek van die oorlog in 1939 oorlede is, is hierdie kosbare instrument nie in sy testament genoem nie. Dis hier waar geskiedenis en legende versmelt. Sommige getuienis beweer dat die viool nie na sy erfgename gegaan het nie, omdat dit Grohman se wens was dat dit in die Warschau Museum uitgestal en een keer per jaar aan ‘n talentvolle jong musikus die geleentheid moet gee om daarop te speel.  Die Nazi besetting van Pole het egter alle omstandighede drasties verander en die museumbestuur het hierdie kosbare  instruments in ‘n kerk in die Poolse stad versteek.

 

Maar die Stradivari Lauterbach het daarvandaan verdwyn. Sommige beweer dat die Amerikaanse magte die instrument in die woning van die Nazi-offisier Theodor Blank gevind het, maar hul het die spoor daarvan daar verloor. Die instrument wat in Parys na vore gekom het, kan moontlik die raaisel van dekades opklaar, of dalk bly die raaisel vir altyd in die skadu’s van geskiedenis verskuil.

Maar hierdie vonds het ook ‘n monetêre waarde. Die naamlose persoon wat tans in besit is van die viool is, stel belang om dit op veiling te laat verkoop. Indien die instrument gewaarmerk word, kan dit lei tot verbetering van alle vorige rekordpryse. Die nakomelinge van die laaste eienaar, die Grohmanfamilie, stel moontlik belang om die viool na Pole terug te bring. Teenstrydige Poolse wetgewing kan dit moontlik in die wiele ry. As gevolg van die groot aantal voorwerpe wat op versoek na hul eienaars terugbesorg moet word, is ‘n Poolse wet in 2021 aanvaar wat die spertyd vir sulke voorwerpe op 30 jaar plaas, en daardie spertyd het ongelukkig reeds verstryk.

Die bekende Amerikaanse Violis Joshua Bell bespeel ‘n Stradivariusviool, gekoop teen $4 miljoen, nou gewaardeer teen $15miljoen. Luister na sy uitvoering van ‘n uittreksel uit Mendelssohn se Vioolkonsert by:

https://soundcloud.com/embertone/mendelssohn-violin-concerto-excerpt-louder-2?in=embertone/sets/the-joshua-bell-violin

Bronnelys:

  • Albertyn, CF: Ensiklopedie van die Wêreld;
  • https://www.voxnews.al/english/lifestyle/ishte-vjedhur-nga-nazistet-pas
  • Human, K: Die A tot Z van Klassieke Musiek
  • Hurd, M: Oxford Junior Companion to Music
  • Isaacs & Martin: Hamlyn illustrated Encyclopedia of Music
  • McWhirter, A: Illustrated Encyclopedia of Essential Knowledge; Scholes, PA: Oxford Companion to Music; Shkruar, NGA: Redaksia Vox

 

Persons, Arts

  • Hits: 3