Skip to main content

Walter Battis: opvoedkundige en vernuwende kunstenaar

Om 7:50 op Saterdagoggend 4 Januarie 1906 is ‘n seuntjie vir die konserwatiewe Engelse Metodiste egpaar Walter Battis  en sy vrou van Somerset-Oos gebore. In 1911 het sy ouers ‘n dubbelverdiepinggebou in Paulettestraat gekoop en dit in ‘n hotel omskep. Die Eerste Wêreldoorlog het egter reise beperk en die hotel is gesluit. In 1981 het Battis na die gebou teruggekeer en is dit heropen as ‘n kunsmuseum vir sy kunswerke.

In 1917 het sy gesin na Koffiefontein in die Vrystaat verhuis. Hul het na die delwery op die plaas Boshoffshoop verskuif waar sy moeder se broer George Webster bestuurder was. Die radikale omgewingsverandering het die jeugdige Battis die spiritualiteit gegee waarna hy verlang het. Hy verwys daarna as die “Infinity of Space”. Daar het sy gedagtes en drome begin vorm aanneem. Die geel en bruin vlaktes rondom Koffiefontein het drasties verskil van die lowergroen klowe van Bosberg by Somerset-Oos. Die jong Battiss het ontvlugting gesoek en gevind in die ruig-begroeide oewers van die Rietrivier wat hy beskou het as “die mooiste plek vir seuns” –‘n paradys van plesier: swem, roei, voëlnessies soek, jag, en alle ander seunsavonture en gevare.

Die koms van William Fowler na Koffiefontein het Battiss se lewe drasties verander. Fowler het Battiss se  onversa-digbare nuuskierigheid gevul deur die rotstekeninge op die rivieroewers vir hom uit te wys wat bewys het dat iets wonderbaarliks in die skynbaar leë vlaktes te vinde was.  Fowler het hom aan die hand gelei na oeroue klippe met kunswerke. Battiss het eers veel later besef hoe sy kreatiewe onderbewussyn deur hierdie openbaring van vroeë kuns beïnvloed is.  

Battiss het onwetend die beste petrogliewe in Suid-Afrika, wat oor 27 plase tussen Koffiefontein en Fauresmith versprei is, raakgeloop. Hoewel Fauresmith en Koffiefontein slegs 55 km van mekaar is, was dit vir die 14-jarige Battiss ‘n totaal ander wêreld waarheen hulle in 1920 verhuis het. Hier het hy idilliese kinderdae beleef. Sy liefde vir kuns is deur sy moeder en haar Websterfamilie aangemoedig, maar die tyd in Fauresmith het ‘n nuwe era in sy kunsontwikkeling en sy liefde vir die natuur ingelui. Battiss het in 1923 in Fauresmith gematrikuleer en  werk daarna ‘n paar maande as bankklerk. In 1924 word hy ‘n klerk in die magistraatskantoor in Rustenburg.

Battiss het hier egter meer geïsoleerd begin voel, nie net as Engelssprekende tussen mense in ‘n Afrikanerdorp nie, maar ook as kunstenaar wat nie deur mense verstaan word nie.  Sy sportgeorïenteerde vader was nie in sy seun se geheime lewe geinteresseerd nie. Sy moeder wou hê dat hy kuns aan die Royal Academy in Londen moes gaan studeer, maar hy wou in Suid-Afrika bly en’n landskapskilder word. Hierdie omstandighede het tot konflik gelei.

In 1922 skets Battis “The Dying Willow”, ‘n geïsoleerde boom wat sy uitgeteerde vingers die lug in steek terwyl Fauresmith in die verre agtergrond verrys. Dit was nie juis ‘n wonderlike skets nie, maar hier word Battiss se identiteit deur kragtige invloede gevorm, nl. verhuising, kulturele, godsdiens en taalverdrukking. Hoe meer druk Batiss ervaar, hoe het hy hom na kuns gewend om ontvlugting en verligting te verkry. Op skool het hy sy kuns vir sy skoolmaats weggesteek – hulle sou hom as ‘n verwyfde beskou.

Battis word 1924 aangestel as klerk in die magistraatskantoor te Rustenburg. Hier het hy weer in alle erns begin skilder en voel nie onder druk nie, omdat daar nie ‘n stigma aan kuns en kunstenaars was nie. Maar die Battiss wat in Rustenburg aangekom het, het nog die sielkundige letsels van die Vrystaatse omstandighede gedra. Eers op Rustenburg het Battiss bewus geword van die invloed wat konserwatisme op hom gehad het en hoe dit hom weerhou het. Hy was vasbeslote om daardie aspek van sy karakter af te skud.

Die gemeenskap van Rustenburg het Battiss aanvaar in hul drinkpartytjies in die Kloof, maar op 19 was hy nog naïef. Hy was verward – alhoewel hy die partytjies geniet het, het hy terselfdertyd genot geput uit die sing van lofgesange tot eer van die Skepper. Hierdie dubbele lewe van genietinge en toewyding was ontstellend en hy het vrede gevind in landskapskildering. Later in sy lewe het hy hierdie tydperk beskryf as die gelukkigste in sy lewe.

In 1930 is hy na die Johannesburgse Opleidingskollege waar hy in 1932 as onderwyser gekwalifiseer het. Hy het aan verskeie Transvaalse skole ondderrig gegee, o.a. die Senior skool in Turffontein, en aan die Pretoria Boys High van 1936 tot 1953. In 1938 is hy medestigter van die Nuwe Groep wat in teenstand teen die outokratiese oorheersing van Suid-Afrikaanse kunswêreld deur Edward Roworth se Britsgesinde kunskliek.  Die Nuwe Groep was’n gilde van jong Suid-Afrikaanse kunstenaars wat met hul terugkeer uit Europa in 1937 die konserwatiewe waardes van die SA Vereniging van Kunstenaars begin bevraagteken en opponeer het. Hul wou die SA kuns laat opbloei. Ander stigterslede as Gregoire Boonzaaier, Lippy Lipschitz en Cecil Higgs. 17 kunstenaars was verteenwoordig by die groep se eerste uitstalling in Kaapstad in 1938.

Battis het Europa die eerste keer in 1938 besoek. Die volgende jaar publiseer hy sy eerste boek, “The Amazing Bushman”. Sy belangstelling in primitiewe rotskuns het ‘n grondige invloed op sy idees gehad. Hy het Sankuns as ‘n belangrike kunsvorm beskou. Hy is ook beïnvloed deur Ndebele kralekuns, pre-Islamitiese kultuur en kalligrafie. Hy was berese en belese en het Griekeland in die laat sestigerjare besoek, die Seychellesin 1972. Hierdie reise het sy denkbeeldige Fookeiland geïnspireer. Hy het ‘n kaart, denkbeeldige mense, plante en diere daarvoor geskep. Die natuur word eers vir die kunstenaar ‘n werklikheid wanneer hy eie gestalte daaraan gee. Dit is waaroor dit met Fook gaan. Dit het bygedra tot sy skeppende impulse.

Battis het nege boeke gepubliseer en ook die akademiese kunstydskrif De Arte gestig. Hy het vir 30 jaar kuns aan die Pretoriase Kunssentrum gedoseer, waar hy van 1953 tot 1958 prinsipaal was. Hy was ook kunsdosent aan UNISA waar hy in 1958 as professor aangestel is, en vanwaar hy in 1971 afgetree het. Hy het wyd gereis, oa. Brooklyn, NY., Turkye, Griekeland, die Seychelle en Tahiti. Hy het homself oorgegee aan hedonistiese optrede – sy manier om aan ‘n leeftyd van verdrukkende opvoeding en ingeperkte uitdrukking te ontsnap. Sy Orgy-reeks helder syskermdrukke is van 1970 as pornografies verklaar en van uitstallings onttrek. In 1973 het UNISA ‘n D. Phil et Lit aan hom toegeken. Sy boek “The artists of the Rocks” van 1948 het die wêreld se aandag op SA se rotskuns gevestig deur die estetiese betekenis daarvan te beklemtoon eerder as die argeologiese betekenis.Die boek bevat besondere illustrasies in die vorm van talle foto’s en Battiss se uitmuntende kopieë van die rotstekeninge. Op grond daarvan is na hom as die ‘boesman-skilder’ verwys.

Battis het self na sy skildery “Eternal Palace” verwys as die opsomming van dit wat hy in sy kuns met verf wou sê. Die skildery toon ‘n landskap met heuwels, rotse en ‘n waterpoel. Op die growwe kleurvolle oppervlak verskyn mense figure en lewensgetroue diere. Dit toon sy kuns as die voorpunt van estetiese ontwikkeling in ‘n nuwe medium.

Fookeiland is dwarsoor Suid-Afrika bekendgestel- die konsep het hy in Londen raakgeloop. Fook het 20 basiese woorde. Op sy kreatiewe hoogtepunt het hy ‘n nuwe kultuur opgetower – vars, kleurvol, vry, bevestigend en geheel en al uit sy eie verbeeldingswêreld. Eerder as ‘n werklike plek was dit ‘n eiland van mense saamgebind deur ideosin-kratiese simbole, selfs Fook-seëls, geldstukke, rybewyse, geskepte diere, ‘n Fookalfabet in sy eie skeppingsruimte.

Hy het voortgegaan en die wêreldberoemde Fookeiland in Grotto’s Hill (nou Menlo Park) gebou as een komponent van die materialisering van Battis se filosofie. Blomryke woorde om eenvoudig nuwe simbole te koppel aan nuwe idees, en te demonstreer dat mens nie hoef vas te kyk aan die geskiedenis of werklikheid nie, maar dat mens jou eie wereklikheid van meet af kan skep en dit aan die nuwe NOU kan koppel.  Fookeiland was maar net Battiss se huis en hier kon Suid-Afrikaners tot enigiets gesalf word deur die koning van Fookkammawêreld.

“Ek het gedink ek sal ’n eiland skep, die eiland binne in elkeen van ons en dit op sy kop draai tot, dit ‘n naam gee. Mens kan ‘n manier vind om jou huis letterlik ‘n nuwe paradys te maak, of dit nou in ‘n restaurant of met vriende is, of ‘n sitplek met ‘n mooi uitsig. Al wat nodig is, is inspirasie wat werklik kom van wat nou ver agter ons is. Wat ons ook al ons fokus maak, is ons eiland, en as ons wil, kan ons ‘n paradys uit niks skep.”

Battis se kuns was intuïtief, dit kom nader aan die kosmiese realiteit. Hy was as ‘n vrugbare kunstenaar deurgaans aan die voorpunt, afwisselend en nooit staties nie. Hy het SA kuns op alle vlakke met individualiteit en kreatiwiteit verryk en gestimuleer. Hy het nabootsing ontmoedig en die samelewing met simposiums, seminare en artikels ondderrig.

Battis is op 20 Augustus 1982 te Port Shepstone, Natal, oorlede.

Persons, Arts

  • Hits: 3