Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika

eGGSA tak
 
  Algemene Jaarvergadering van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika
Port Elizabeth Women’s Club, Summer Strand, 25 Februarie 2006
 
    

Voorsittersverslag van die Wes-Kaapse tak

Chairman’s report of the Western Cape Branch

vir die jaar 2005 / for the year 2005

 

Dr. NC Gey van Pittius

 

 

My ampstermyn as voorsitter van die Wes-Kaapse tak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika het baie onverwags begin in April / Mei 2005 nadat ek tydens `n oorsese reis in my afwesigheid verkies is in die posisie. Dit was weens die feit dat die voorsitter wat herverkies is op die Algemene Jaarvergadering van die Wes-Kaap Tak van Januarie 2005, Johann Janse van Rensburg, verkies is tot die amp van Nasionale President op die Nasionale Algemene Jaarvergadering.

 

By aanvaarding van die posisie moes ek dus noodgedwonge my amp as redakteur van Capensis neerlê, iets wat ek met `n swaar hart gedoen het aangesien ek die werk baie geniet het. Gelukkig het `n baie meer bekwame persoon by my oorgeneem, en het Sasa Malan die takpublikasie tot veel hoër hoogtes geneem – ek wil dus graag my hartlike dank aan Sasa betuig vir die ongelooflike werk wat sy doen. Dankie ook aan haar span, Gerhard Geldenhuys vir die redaksionele hulp en Max White sonder wie die publikasie se verspreiding nie so flink sou gaan nie. Capensis se inskrywingsgetalle groei jaarliks en dit getuig van die wonderlike genealogiese publikasie wat dit is. Meer inligting kan in die redakteursverslag gevind word. Sasa het ook aangebied om die tak se nuusbrief oor te neem, waarmee sy ook wonderlike werk verrig het en gesorg het dat die nuusbrief getrou deur die jaar versprei word.

 

Baie dankie ook aan my bekwame bestuur, sonder wie ek nooit eers daaraan sou dink om die voorsitterskap aan te pak nie. David de Klerk wat die verteenwoordiger van die platteland is, het al die vergaderings in die jaar bygewoon, ondanks die feit dat hy ver moes ry van Worcester af. Sy insig en bydraes in die bestuur van `n genootskaptak was baie waardevol.

 

Fred Deas as sekretaris het gesorg dat die vergaderings by Pinelands gereël is, en het die korrespondensie en notulering van bestuursvergaderings behartig. Fred se bydrae tot die reël van die Genealogiekursus aan die einde van 2005 was ook substansieël en dit sou moeilik sonder sy bekwame hand suksesvol kon wees. Fred was ook vir `n groot gedeelte van die jaar verantwoordelik vir die Master-at-Arms portefeulje (met die hulp van Yvonne Robinson), wat hy die laaste jare met groot toewyding en tydsonkoste hanteer het. Johann Janse van Rensburg het aangebied om die portefeulje oor te neem, waaroor ons baie dankbaar was en wat vir Fred kans kon gee om meer tyd aan die sekretarisskap te spandeer. Ongelukkig het ons aan die einde van verlede jaar vir Johann verloor aangesien hy `n posisie in Gauteng aanvaar het. Die portefeulje is dus vanaf 2006 vakant.

 

Elmien Wood het as tesourier haar uitstekend van haar taak gekwyt. Ons kon met vertroue weet dat die geldsake in Elmien se hande altyd gesond sou bly, en die ferm hand waarmee sy die finansies hanteer het word weerspieel in die feit dat ons die jaar met `n baie gesonde balans kon afsluit. Elmien sal in haar verslag meer hieroor uitbrei. Elmien het ook eiehandig die Stilbaai uitstappie gereël, wat `n reuse sukses was. Ons is jammer oor die feit dat Elmien in 2006 uittree as tesourier, maar ons gun haar die ruskans. Die posisie is dus ook vakant vir 2006.

 

Marianne Meyer het met haar entoesiasme en toewyding hierdie jaar die portefieulje van Begraafplaaskoordineerder oorgeneem, en het gesorg dat hierdie belangrike projek waaraan die Wes-Kaapse tak so `n groot aandeel het, met rasse skrede vorentoe geneem is. Haar bydraes tot alle ander fasette van die takbestuur was ook baie waardevol.

 

Nico Walters se ervare insig in die bestuur was baie waardevol, en sy skakeling met groepe soos die skole het gelei daartoe dat ons hierdie jaar (2006) `n skoleprojek van stapel wil stuur met Nico, Elmien en Marianne aan die stuur.

 

James Butler het in die agtergrond `n onmisbare rol gespeel deur vir ons deurlopend te sorg dat die webblad van die tak op die GGSA webwerf op datum is. Ons wil vir James baie dankie sê hiervoor.

 

Gedurende die jaar het ons `n hele aantal interessante vergaderings aangebied, waaronder `n besoek aan die vlootmuseum in Simonsstad, `n besoek aan die slawemuseum in Kaapstad, `n naweekuitstappie na Stilbaai, `n genealogiekursus vir beginners (en ou hande!) aangebied deur Daniel Jacobs, `n praatjie oor die bewaring van ou dokumente, die uitleg en druk van genealogiese publikasies en `n aanbieding oor die beskikbare GGSA produkte.

 

Die Genealogie Kursus was veral ook baie kosbaar weens die feit dat ons wonderlike skakeling kon kry met ongeveer 8 lede van die Cape Family Research Forum, wat navorsing doen op hoofsaaklik kleurling en slawe-families. Die lede van die Forum was ook baie positief en briewe wat agterna ontvang is getuig van hul waardering vir die geleentheid om meer interaksie met ons tak te hê. Ons hoop dat die samewerking in die komende jaar versterk sal kan word deur meer gesamentlike byeenkomste.

 

Om mee af te sluit wil ek die bestuur bedank vir al hulle harde werk van die jaar en vir die hulp met die oorname van die voorsitterskap op `n baie onverwagse stadium. Ek wil ook die lede bedank wat getrou vergaderings bygewoon het, begraafplase opgeskryf het, hul insette gelewer het en gesorg het dat die tak `n lewendige tak bly. Dankie ook aan ieder en elk wat getrou hul navorsing in Capensis publiseer en daardeur sorg dat ons takpublikasie van hoogstaande gehalte bly.

 

 

Nico C. Gey van Pittius

21 Januarie 2006

 

 


home | benefits | contents | join | privacy policy | code of conduct | about us | links