Skip to main content

Cornelius van Gogh in Suid-Afrika

Cornelius Vincent van Gogh is op 17 Mei 1867 in die dorpie Groot Zundert, Noord-Brabant, Nederland gebore as jongste van die Van Goghbroers.Hy het ‘n hegte verhouding met sy broer Theo, die stabielste Van Goghbroer, gehad. Dit was Theo wat die beroemde broer Vincent gedurende sy jare van swaarkry onderhou het.  In een van sy briewe aan Theo skryf Vincent dat Cor besluit het om na Transvaal te emigreer. Vincent meen dat dit ‘n verstandige besluit is omdat daar meer geleenthede vir ‘n jongman is. Die jong Cor het tevore in Londen gewerk.

Cor het in 1889 na Suid-Afrika gekom en skryf aan Theo dat Johannesburg  ‘n wilde plek is waar jy dit nie sonder ‘n rewolwer op straat sal waag nie. Hy meld dat Johannesburg ‘n lelike plek is sonder noemenswaardige groenigheid.  Hierdie briewe is deur Theo se vrou Johanna bewaar.

Na ‘n kort besoek aan Nederland in 1890, keer hy na Suid-Afrika terug en trou in Pretoria met ‘n Duitse vrou, Anne Catharina Fuchs. Geen kinders is uit hierdie ongelukkige huwelik gebore nie. Gedurende die Jamesoninval in 1896 het Cor Transvaalse installasies bewaak. Cor was as ingenieur werksaam by ‘n myn in Germiston. Later was hy werksaam aan die NZASM se spoorlynkonstruksie na Lourenço Marques. Hy was glo lid van die Franse Vreemdelinge Legioen en het in Oktober 1899 as ambulansdrywer by die Boeremagte aangesluit.  

Teen die einde van Maart 1900 word Cor tydens die slag van Kareestasie naby Brandfort ernstig verwond en deur die Britte gevange geneem. Hy word opgeneem in die veldhospitaal naby Brandfort. Volgens ‘n verklaring van Rooi Kruis is hy op 14 Junie oorlede aan ‘n koeëlwond wat hy tydens die slag by Kareestasie opgedoen het. Sommige bronne meld egter verkeerdelik dat hy as gevolg van selfdood oorlede is.  Hy is in ‘n ongemerkte graf begrawe. Sy naam word saam met dié van ander Boerekrygers op ‘n kopergedenkplaat vermeld in die Twee Toringkerk in Bloemfontein.

Bronnelys

  • Ploeger, J: Cornelius van Gogh in Transvaal, Lantern, Jaargang 31, Desember 1981
  • Venter, J: Skilder se broer veg an Boerekant, Die Burger
  • Nordbruch, C: Vir Vryheid en Reg
  • Van Bart, M & Scholtz, L: Vir Vryheid en vir Reg
  • Wikipedia

Persons, Anglo Boer War

  • Hits: 4